Speel die hand wat jy gedeel word
Maria Konnikova
Dis maklik om versleur te word deur die negatiewe golf van nuus wat ons nou tref. Ons ekonomie is in sy tjops. Ons leiers het die pad byster geraak met hul sinnelose inperkings. Moord en roof en betoog is alledaags. In die buiteland is dinge nie veel beter nie. ‘n Dom egois is aan die stuur van die wêreld se grootste ekonomie (en weermag). Die helfte van Beirut word uitgewis deur onbevoegdheid. Modderstortings in Indië. Isis in Mosamboek. O, en het ek al genoem ons is midde-in ‘n globale pandemie? In my geestesoor hoor ek Laurika Rauch se ‘I can see a fiery, fiery glow’ en ek wonder: is dit hoe die einde lyk?
Tog weet ek ook dat dinge al donkerder was, dat ons lewensstandaarde, in die gemiddelde, steeds beter is as enige vorige generasie in wêreldgeskiedenis. En ek weet dat gedragswetenskaplikes gereeld ‘n negatiwiteitsvoorkeur in hul studies vind, die bevinding dat negatiewe dinge ons meer affekteer as positiewe dinge. Met ander woorde, goeie nuus sal tipies minder van ‘n effek op ons gedrag en bewustheid hê as eweveel slegte nuus. En ek weet ook dat slegte nuus veral deur sosiale media aangevuur word. Elke dag se nuus kan basies opgesom word met: ‘Op Twitter skree mense steeds op mekaar.’
Maar hierdie objektiewe feite bring min verligting. Selfs al word ek nie direk geraak nie, trek mens al die negatiewe nuus persoonlik aan: elke koerantberiggie vertel van die verlies van ‘n geliefde, ‘n inkomste wat tuimel, ‘n loopbaan vernietig. En dit lê mens lam, want hoekom gebeur slegte goed met goeie mense? En, wanneer die slegte nuus inderdaad oor ons eie drumpel kom, hoekom gebeur slegte goed met my?
Dis met hierdie gedagtes dat ek onlangs Maria Konnikova se boek, The Biggest Bluff, optel. Konnikova is ‘n joernalis in New York met ‘n PhD in sielkunde. Sy bestudeer menslike gedrag: haar studieleier, Walter Mischel, het in 1972 die bekende malvalekker-eksperiment ontwerp, waar kinders die keuse gegee is tussen een malvalekker wat hulle dadelik kon eet of twee malvalekkers as hulle 15 minute kon wag. Die kinders wat gewag het, was geneig om meer suksesvol te wees in die res van hulle lewe. Hierdie tipe studies het Konnikova geïnspireer om verder ondersoek in te stel oor die belangrike vraag: Hoeveel van wat met ons gebeur is weens ons eie toedoen – en hoeveel is blote geluk?
Om dit te antwoord, doen sy iets vreemds: sy besluit om die wêreld se beste poker-speler te word. Dit is omdat poker, glo sy, die perfekte balans is tussen twee teenstrydige kragte in ons lewens: kans en kontrole. Enigiemand kan ‘n goeie hand trek – en dalk selfs ‘n paar goeies in ‘n ry. Maar die geluksgodin is ‘n korttermynvriend; om regtig ‘n wêreldklas pokerspeler te word, moet jy herhaaldelik wen. En dit vereis iets meer as geluk: dit vereis dat jy jou omgewing kan beheer. Dis hoekom poker nie net ‘n spel van kans is nie. Deur ure se pokerwedstryde te bestudeer, bereken die ekonome Steven Levitt (van Freakonomics faam) en Thomas Miles dat amateurpokerspelers gemiddeld 15% van hulle inkoopbedrag verloor, terwyl professionele spelers gemiddeld 30% wen. Hulle skryf dat ‘die opbrengskoerse in poker is beduidend groter as soortgelyke koerse in die finansiële dienste sektor’. Die punt is: Sukses in poker vereis meer strategie as beleggingssukses.
Konnikova se plan het net een klein komplikasie: sy het nog nooit poker gespeel nie. Sy weet nie eens hoe werk die reëls nie. Maar sy is vasbeslote, en gaan daarom aanklop by een van die wêreld se topspelers, die sestigjarige Erik Seidel, wie se loopbaanprysgeld al op meer as $34 000 000 staan. Die boek vertel wat sy leer in die proses, nie net oor poker nie, maar oor die lewe.
Die les wat my die meeste tref is dat geluk eintlik ‘n baie klein deeltjie van sukses is. Die ekonoom Ingo Fiedler het honderde-duisende pokerrondtes bestudeer en tot die verrassende gevolgtrekking gekom dat die beste hand net 12% van die keer wen. Almal van ons is soms gelukkig en soms ongelukkig – ons kry soms ‘n goeie hand en soms ‘n slegte een. Maar wat Konnikova vinnig agterkom is dat vir die beste spelers, ‘n goeie of slegte hand selde saakmaak. Selfs ‘n slegte hand kan ‘n wenhand wees as jy jou strategie reg kies. Om ‘n pokertoernooi te wen – of om herhaaldelik pokertoernooie te wen – kan nie net geluk wees nie; jou vaardighede is van uiterste belang. En sulke vaardighede bou mens net op deur hard daaraan te werk, soos sy doen vir etlike maande.
Oppad na haar titel – sy wen op die einde van die boek wel ‘n internasionale toernooi – verloor sy gereeld. Maar sy leer ook vinnig dat hierdie teleurstellings nodig is om haar ‘n beter speler te maak. Haar afrigter verduidelik dit só: Wanneer dinge verkeerd loop, sien meeste mense dit as onregverdig. Hulle vat dit persoonlik. Hulle weet nie hóé om te verloor nie, hoe om iets daaruit te leer nie. Hulle soek na iets of iemand om te blameer. Hulle dink nie na oor waar hulle dalk ‘n verkeerde besluit geneem het.
Ons is inderdaad baie meer geneig om ons onsself te prys vir goeie goed en ander te blameer vir die slegte goed wat gebeur. Konnikova se refleksie het my gehelp om te verstaan dat hoewel ons nie kan beheer watter kaarte ons gedeel word nie, het ons wel beheer oor hoe ons daarop reageer. Ons moet nie verwag dat net goeie goed met ons sal gebuer, of selfs dat ons altyd die regte besluite sal neem nie. Nee, daar gaan baie afdae en verkeerde keuses wees, maar die mees suksesvolles onder ons is dié wat eienaarskap neem oor hul besluite, leer uit hul foute, en vra dat die volgende hand gedeel word.
* ’n Geredigeerde weergawe van hierdie skrywe het in Rapport van 16 Augustus verskyn.
**Image source: John Locher/AP.