Wie verloor met minimumlone?
Vir vier jaar lank op skool het ek elke oggend, behalwe Sondae, Die Burger aan intekenaars in my buurt afgelewer. Vanaf 4h30, wanneer die koerante op die poskantoor se stoep afgelaai is, het ek en twee vriende eers vir ‘n halfuur lank die koerante in blokkies sit en vou (as dit reën, met ‘n sakkie oor), en daarna nog ‘n uur en ‘n half lank op ons fietse straatop en –af gery om die dag se nuus te versprei. Vir my twee ure se werk elke dag, ses dae per week, het ek ongeveer R80 per week verdien.
Dit was nie kinderspeletjies nie. Daar was stormdae van Kaapse wind en reën wat nie goed vir my (of vlieënde koerante) was nie. Daar was konflik met omies en tannies wat gekla het dat die koerante te laat was, of nie in die posbus geplaas is nie, of nat was van die reën. (Ek was telke male raasop met ‘n tannie wie se sproeiers elke oggend haar koerant sopnat gespuit het, en dan oor die nat koerant gekla het.) Daar was dae – veral Saterdae – wat die koerante so swaar was dat my skouers rou was van die koerantsakke, of honde my gejaag het, of ek in ‘n randsteen of boom of tuinhekkie vasgery het.
En tog, koerantaflewer het vir my baie meer beteken as die inkomste wat ek verdien het. Dit was iets om op trots te wees, iets waarvoor ek verantwoordelikheid moes neem, belangrik vir ‘n tingerige laaitie op hoërskool. Dit het ‘n kameraderie onder vriende gesmee. Dit het my fiks gehou – en ‘n vernuftige fietsryer. En dit het my ‘n uur gegee elke dag vir dagdroom, planne beraam en drome droom vir aandag as ek oud is. Koerantaflewer het my gevorm, wil ek glo, wie ek is vandag.
Maar niks hiervan sou moontlik gewees het as daar tóé ‘n minimumloon van R20 per uur was nie. Want sien, R7 per uur was nie baie geld nie, maar dit het waarde vir Die Burger en haar intekenare geskep. As die staat my sou wou ‘beskerm’, en op ‘n hoër loon aandring, sou ek my werk kwyt gewees het (waarvoor ek vrylik ingestem het) en die intekenare hul persoonlik-aflewerde koerante. Almal sou slegter af gewees het ten koste van ‘n beleid met goeie bedoelings.
Hier is die argument ten gunste van die minimumloon: baie werkers verdien tans ‘n loon wat as ‘n armoedeloon beskou word, met ander woorde ‘n inkomste wat te laag is om ‘n sekere lewensstandaard te verseker. Die staat, so gaan die argument, moet dus ‘n minimumloon instel om werkgewers te dwing om ‘n hoër ‘menslike’ loon aan hul werkers te betaal. Waar moet hierdie ekstra koste vandaan kom? Wel, uit die hoë winste van die werkgewers, natuurlik.
Ekonome weet egter dat meeste firmas in ‘n mededingende mark nie monopoliewinste maak nie (indien hulle sou, sou meer firmas eenvoudig tot die mark toetree totdat die monopoliewinste uitgewis is). ‘n Meer genuanseerde argument vir die minimumloon is dus dat Suid-Afrikaanse firmas ‘n arbeidsmonopsonie het – met ander woorde, dat een firma die enigste koper van arbeid is, en dus die prys kan bepaal.
Maar daar is eenvoudig baie min bewyse hiervoor. Meeste ongeskoolde werkers (wat lae lone verdien) werk in erg-mededingende sektore, soos op plase, of restaurante, of as petroljoggies.
Wat dit beteken is dat ‘n minimumloon eenvoudig werkers wat bereid was om teen ‘n laer loon te werk gaan dwing om hul dienste teen ‘n hoër loon aan te bied. Waar hul produktiwiteit so laag is dat hulle nie waarde skep teen die nuwe loonprys nie, gaan werkgewers eenvoudig nie meer van hul dienste gebruik maak nie. Die gevolg: werkloosheid.
Maar die belangrike punt is om te onthou dat hierdie nie net ‘n toename in werkloosheid beteken nie. Dit beteken ook dat baie mense wat bereid is om teen ‘n laer loon as die minimumloon te werk – soos ek, toe ek nog op skool was – nou nie meer die werkservaring, -etiek en –trots opdoen wat ‘n werk aan hulle gee nie. Werklose mense is baie meer geneig om min selfvertroue te hê en te lei aan depressie. Werkloosheid beteken nie net dat mense nie ‘n inkomste verdien nie (al is dit ook hoe min), dit beteken dat ons ‘n generasie van jongmense skep wat nie werkservaring en -dissipline opdoen wat hulle toelaat om vir beter-betaalde werke te aspireer nie.
In ‘n land met een van die hoogste werkloosheidskoerse in die wêreld is ‘n hoër minimumloon nie net roekeloos nie, dis masogisties. Ons skiet onsself in die voet deur met die eerste paar sporte op die leer van sukses weg te doen, in die naam van goeie intensies. Ons is soos daardie tannie wat elke dag gekla het oor haar nat koerant, maar nooit besef het dis net haar eie skuld nie.
*An edited version of this was first published in Rapport 16 May. Photo by Mathieu Stern on Unsplash.