Wat verduidelik die Groot Verryking?
Wees gewaarsku: ek gaan my bes doen om jou te oortuig dat Suid-Afrika se toekoms dalk meer rooskleurig kan wees as wat die huidige omstandighede daarna uitsien. En ek wil jou oortuig dat hierdie rooskleurige toekoms nie noodwendig van ‘n president, of ministeriële taakspan, of dergelike staatsinstansie afhang nie. Ook nie dat ons moet hoop op ‘n beter skoolstelsel nie (hoewel dit baie sal help), of die privaterisering van Eskom of SAA (dit sal ook help), of die nasionalisering van myne en banke (beslis nie), of ‘n hoër of laer minimumloon, of enige van die wette en regulasies wat die owerheid of drukgroepe wil implementeer nie. Dit hang ook nie van die res van Afrika, of Amerika, of China, of Indië af nie.
Ons rooskleurige toekoms, wil ek jou oortuig, hang aan ‘n idee: die manier hoe ons met mekaar praat. In ‘n nuwe, baanbrekerboek probeer Deirdre McCloskey, professor van Ekonomie, Geskiedenis en Engels by die Universiteit van Illinois in Chicago, die Groot Verryking verduidelik: hoe is dit dat ons vandag ten minste 20 keer beter af is as ons oupa- en ouma-grootjies wat in die neëntiende eeu geleef het? Selfs die armstes van ons land en kontinent is beter af en leef langer lewens weens toegang tot tegnologie soos selfone en inentings.
In teenstelling met vorige verduidelikings vir die geweldige toename in welvaart die afgelope twee eeue – soos kapitaalakkumulasie (Thomas Piketty), of faktorpryse (Bob Allen), of institusies (Daron Acemoglu en James Robinson) of wetenskap en innovasie (Joel Mokyr) of enige van die meer absurd verduidelikings soos imperialisme of genetika – skryf McCloskey die Groot Verryking toe aan: ‘n ‘slow-motion revolution in ethical convictions… letting men make mutually advantageous deals, and even admiring them for doing so, and especially admiring them when, Steve Jobs-like, they imagine betterments’. Basies: waar sakelui – handelaars, entrepreneurs, bestuurders – voorheen as onetiese gieriges van die laer stand beskou is, is daar in die sewentiende eeu in Holland stelselmatig op ‘n nuwe manier oor sake-doen gepraat. Om ‘n wins te maak was nie meer gesien as diefstal nie, maar iets om gevier te word. Dink aan Sherlock die Jood in Shakespeare se Merchant of Venice. Handel = sleg. Vandag word ouens soos Bill Gates of Elon Musk geprys vir hulle sake- en innovasie-vernuf.
McCloskey argumenteer dat hierdie verandering in die retoriek oor die sakewêreld die oorsaak was dat meer mense in Holland die vryheid en waardigheid (liberty and dignity) gehad het om hulself ryker te maak. Die adelklasse en kerk het al minder seggenskap gehad oor die middelklas en armstes se lewenslot. Hierdie retoriek het na Engeland en Skotland in die agtiende en neëntiende eeu versprei (Adam Smith skryf sy Wealth of Nations in 1776). En van daar na Amerika, waar hierdie retoriek van vryheid en waardigheid vasgevang is met ‘all men are created equal, that they are endowed by their Creator with certain unalienable Rights, that among these are Life, Liberty and the pursuit of Happiness’. In die twintigste eeu het hierdie waardes verder versprei, na Japan (in die 60s), en China (in die 80s) en Indië (in die 90s). Ook in baie Afrika-lande is hierdie retoriek meer en meer in die een-en-twintigste eeu te bespeur. Waar mense vryheid en waardigheid het, verduidelik McCloskey, daar maak die kreatiwiteit van gewone mense die buitegewone moontlik: ‘n Groot Verryking.
McCloskey het dit veral teen die linkse retoriek dat die Staat uberbelangrik vir welvaartskepping is. Anti-kapitalisme is dalk cool, maar dis ook verkeerd. Natuurlik is daar nog baie armes, maar om kapitalisme vir die orige armoede te blameer wanneer die stelsel vier biljoen mense die afgelope eeu uit armoede gelig het is om die baba met die badwater uit te spoel: “Remarks such as ‘there are still poor people’ or ‘some people have more power than others’, though claiming the ethical high ground for the speaker, are neither deep nor clever. Repeating them, or nodding wisely at their repetition, or buying Piketty’s Capital in the Twenty-First Century, to display on your coffee table, does not make you a good person. You are a good person if you actually help the poor. Open a business. Invest in a grocery store in an urban food desert. Invest in a new battery. Vote for better schools…”
En as jy dink McCloskey se boek is vol syfers, wees gerus: daar is meer verwysings na die Bybel as wat daar tabelle en grafieke is. Want dit is taal, sê sy, die manier hoe ons en waaroor ons met mekaar praat, wat die wêreld ‘n vryer en daarom ook ryker plek gemaak het. Sakelui word (meestal) nie meer verpes nie: ‘n goeie sakeman word beskou as ‘n leier in die samelewing. Maar daar is altyd die moontlikheid, waarsku McCloskey, dat dit kan verander: nasionalisme (beskou Anton Rupert se stryd teen die apartheidsregering), populisme (Julius Malema se wit monopolie kapitaal-uitlatings), sosialisme, of kommunisme, of fascisme kan baie vinnig die sakevriendelike retoriek – en dus ook welvaartskepping – vernietig. Pasop.
McCloskey se monumentale werk is volgeprop met interessante verwysings en (dalk effens te veel) kwinkslae. Haar etlike besoeke aan Suid-Afrika – en haar liefde vir Afrikaans – beteken dat sy ‘n hele paar keer tekortkominge in ons land uitwys (of Afrikaans gebruik om, byvoorbeeld, meganisasie te verduidelik). Dis ‘n boek wat, anders as Piketty se saai prosa met ‘n sprinkeling van literêre aanhalings, besaai is met verwysings na denkers en skrywers (soos JM Coetzee). In ander woorde: dis ‘n boek geskryf vir alle geleerdes, van filosowe en teoloë en taalkundiges tot ekonome (hoewel sy een is, staan sy nogals krities teenoor die vakgebied) en ingenieurs en wetenskaplikes.
Meer nog, McCloskey is ‘n optimis (weereens in kontras met Piketty). As ons nie mense se vryheid en waardigheid inperk deur nasionalisme of populisme nie, sal almal binnekort lewensstandaarde hê wat met die ryk lande van vandag kan vergelyk. Hier’s haar voorspelling vir Afrika: “In a century or so, the leading scientists in the world will be black”.
Gooi jou Piketty in die drom (of gebruik dit as deurstop). Kom ons praat eerder oor McCloskey, en haar idees om vryheid en waardigheid vir soveel moontlik Suid-Afrikaners te verseker. (Ek wens ek kan UNISA aanmoedig om die boek voor te skryf vir hulle Honneurs Filosofie-studente; dit sou inderdaad die toekoms van ons land kon verander.) Kom ons maak rolmodelle van ons sakelui en entrepreneurs en uitvinders, want dit is hulle – en nie presidente of staatsamptenare of vakbondleiers of predikante of rektore of professors of skoolhoofde – wat die Groot Verryking ook na die armstes in Suid-Afrika en Afrika sal bring.
*Image source: Patrick O’Brien, East River Traffic, 1912.