Wat Suid-Afrika by Zimbabwe kan leer
Mens het nie ‘n graad in Ekonomie nodig om te weet dat Chris Malikane, die Minister van Finansies se nuutste raadgewer en medeprofessor in Ekonomie by Wits, se nuutste stelling – dat Suid-Afrika moet aspireer om soos Zimbabwe en Venezuela te wees – bog is nie.
Venezuela, wat eens op ‘n tyd Suid-Amerika se rykste land was, kripeer in armoede weens die sosialistiese beleid van die onbeholpe president Nicolás Maduro en sy voorganger, Hugo Chávez. Wanneer jou politieke steun staatmaak op die uitdeel van aalmoese vanweë ’n hoë olieprys, en die prys van olie dan tuimel, moet jy weet jy’t probleme.
In Zimbabwe is die amptelike werkloosheidskoers 11%, maar op ’n besoek drie weke terug was dit beslis nie wat ek gesien of gehoor het nie. Studente aan die Universiteit van Zimbabwe, waar ek ‘n lesing gegee het, was eens: die land gaan gebuk onder geweldige armoede. (Een vakbond reken die werkloosheidskoers is so hoog as 90%.) My besoek was ‘n paar dae nadat die Minister van Onderwys afgekondig het dat skoolgelde nou ook met bokke of beeste betaal kan word. Dit is ‘n goeie metafoor van wat met die Zimbabwiese ekonomie gebeur het.
Of dink so daaraan: mense stem met hulle voete. As Venezuela en Zim dan so fantasties is soos Malikane wil afmaak (en Robert Mugabe ook onlangs op die Wêreld Ekonomiese Forum aangekondig het), hoekom is daar nie lang toue by doeane om soontoe te migreer nie? Inteendeel, baie Zimbabweërs, insluitend van my beste studente, is in Suid-Afrika.
Maar hoekom maak Malikane dan hierdie wilde stellings, wetend wat die situasie in hierdie twee lande is? Moet geen fout maak nie: Malikane is ’n slim man. Sy klasmaats tydens sy studiejare, insluitend ’n paar wat self nou professors in Ekonomie is, getuig daarvan. Sy uitlatings, asook sy skrywe aan die begin van April waar hy sy gedagtes uiteensit, is dus nie die uitbarstings van iemand wat hoop of 15 minute van glorie nie. Dit is, inteendeel, ’n fyn-beplande, goed-georkestreerde strategie. In kort: Dis politiek.
Dit het vir my duidelik geword op my Zimbabwe-besoek. My lesing is deur die voormalige Zimbabwiese Minister van Finansies, Dr Herbert Murerwa, bygewoon. Hy was ook, onder andere, ’n vorige Minister van Grondsake en Grondhervorming. “Ja”, erken hy, “hulle het foute gemaak met die grondhervormingsprogram in Zimbabwe”.
“Maar onthou”, seg hy, “dit was nie ‘n ekonomiese strategie nie. Dit was ‘n politieke strategie.”
En daarmee slaan Dr Murerwa die spyker op sy kop. Malikane se aanval op “Wit Monopolie Kapitaal” – hy gebruik die woord 58 keer in sy 8-bladsye manifesto – het baie min te doen met welvaartskepping, idees en beleidsvoorstelle om Suid-Afrikaners se lewensstandaarde te verbeter. Die ‘eise’ soos gelys in Malikane se manifesto is daarom niks meer as retoriek nie: grondonteiening, nasionalisering van banke, versekeringsinstellinigs, en myne, ’n staatsbank, ens.
Die punt is juis dat dit aanvallend moet wees, dat dit mense moet opsweep. Nog ‘n bewys: hy gebruik die woord ‘geveg’ 8 keer, die woord ‘krag’ 16 keer, die woord ‘mag’ 10 keer en die woord ‘oorlog’ 5 keer. In 8 bladsye se ‘ekonomiese beleid’!
Die einde van apartheid het ‘n toename in herverdeling van inkomste deur die staatsbegroting gebring, maar nooit die herverdeling van rykdom soos wat baie gehoop het nie. Moet nie die belangrikheid van ’n sigbare regstelling onderskat nie; miskien kon daar ’n kreatiewe oplossing, soos ‘n welvaartsbelasting, of onderwysdiensplig, of gedeelte grondeienaarskap, gewees het. Dit het egter nie gebeur nie, en retoriek soos ‘radikale ekonomiese transformasie’ vind aanklank by ‘n generasie wat nie die voordele van ekonomiese groei in die eerste 15 jaar van demokrasie beleef het nie.
En tog, Malikane se strategie gaan niks help om ’n beter Suid-Afrika te skep nie. Vanweë sy opleiding moet hy weet dat wat Suid-Afrika broodnodig het is innovasie. Hy moet weet dat ons nodig het om ons werksmag meer produktief te maak deur beter tegnologie en onderwys. Die woorde ‘ekonomiese groei’, ‘tegnologie’, ‘innovasie’, ‘produktiwiteit’, ‘ontwikkeling’, en ‘wetenskap’, verskyn nie een keer in Malikane se manifesto nie.
Malikane moet weet dat ons beleid nodig het wat ons help om ons vindingrykheid en ondernemingsgees te ontsluit. En ons hét hope daarvan, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Zimbabwe.
Maar Malikane se stellings het nie ten doel om hierdie ondernemingsgees te ontsluit nie, net soos Hugo Chávez se nasionalisering in Venezuela en Zanu-PF se grondhervorming in Zimbabwe ook nooit ’n realistiese ekonomiese strategie was nie. Dis populistiese retoriek wat wil stemme werf. Dr Murerwa het dit vir my mooi opgesom: “Sonder grondhervorming sou Zanu-PF waarskynlik nie die verkiesing kon wen nie. Dit was onafwendbaar.”
Moenie Malikane se standpunte misgis vir dié van ekonomiese beleid nie. Hy’s besig met ‘n uitgeslepe politieke spel.
*Photo by Ravi Kumar on Unsplash.