Te min eerder as te veel kapitalisme ons probleem
So ‘n week of wat terug gesels ek met die joernalistiek honneursklas op Stellenbosch. My onderwerp? ‘Hoe skryf mens oor kapitalisme’. Ek begin met die voordiehandliggende vraag: Wat is kapitalisme? Hande skiet op. Ek kies een: ‘Dis wanneer mense van hul vryhede ontneem word.’
Ek steier effe terug maar kies dadelik nog ‘n hand. ‘Dis wanneer mense uitgebuit word.’
Vinnig kom ek agter dat kapitalisme in hierdie klas nie ‘n goeie rep het nie. Daar is werk om te doen.
Ek begin met ‘n eenvoudige definisie van kapitalisme: dis die vermoë om te kan kies wat mens produseer en wat mens verbruik. Dit is vryheid: die inperking van ‘n owerheid se mag om te dikteer waar ons moet woon, wat ons moet eet, watter werk ons moet doen, en wie ons moet ken.
Ek kan sien hierdie stel baie teleur. Maar wat van armoede, vra die een. ‘Kyk net na al die geweldige armoede in ons land. Dis kapitalisme!’ Dis ‘n wonderlike voorbeeld, antwoord ek. Want as ons ontsteld is oor armoede, soos ons moet wees, dan moet ons ook vra wat met armoede oor die afgelope tweehonderd jaar gebeur het, sodat ons kan identifiseer wat die oorsaak van armoedeverligting is. En die geskiedenis wys onomwonde dat daar waar vryhede van eienaarskap, van demokrasie, van ‘n vrye pers, van die vrye mark uitgerol is, daar het mense se welvaart merkwaardig toegeneem. Veertig jaar terug was 44% van die wêreld se bevolking brandarm. Vandag, nadat vryhede na China en Indië en groot dele van Afrika versprei het, is dit minder as 10%.
‘Maar dit skep ongelykheid – en dís die oorsaak van al ons kwale: misdaad, minderwaardigheid, moedeloosheid’. Ongelykheid is inderdaad vel, antwoord ek weer. En dis belangrik om te verstaan dat terwyl globale ongelykheid gedaal het, dit meestal binne lande toegeneem het. Dit beteken eenvoudig dat die vryhede wat met voorspoed geassosieer word, ongelyk binne lande versprei is. Byvoorbeeld: ‘n derde van Suid-Afrikaners mag nie die grond waarop hul woon besit nie, want hulle woon in die voormalige tuislande. Dis juis in die hierdie areas waar die armste Suid-Afrikaners woon.
En dis ‘n belangrike punt: kapitalisme beteken nie daar is geen rol vir die staat nie. Lees gerus weer Adam Smith se Wealth of Nations. Die staat speel ‘n sleutelrol om burgers te bemagtig met die vaardighede om die meeste van die vryhede van die mark te maak. Daarom is daar ‘n regstelsel en ‘n onderwysstelsel en ‘n gesondheidstelsel. En daarom is daar die regulatoriese ratte van die staat om seker te maak mense word nie uitgesluit nie.
Maar hierdie ratte faal ook gereeld. Selfs in die sogenaamde sosialistiese Swede word die privaatsektor in die skoolstelsel gebruik omdat die owerheid besef dat die mark sommige dinge net beter doen. Die staat speel natuurlik wel ‘n oorsigtelike rol.
En dis ook belangrik om te weet dat kapitalisme nie dieselfde ding as big business is nie. Mededinging is die spilpunt van ‘n kapitalisme wat werk vir almal. Monopolieë en oligopolieë se markmag beteken dat hulle nie die verbruiker op die beste manier diens nie. En baie keer gebruik hulle hierdie mag om politici se arms te draai om hulle voordele te beskerm. Dis staatskaping, en Suid-Afrikaners ken baie goed die gevolge hiervan.
Een student kom na die klas by my aan en ek kan sien iets pla: Hoekom is ons nooit aan hierdie weergawe van kapitalisme blootgestel nie?
Dis moeiliker om te antwoord. Weens universiteitsprogramme wat al meer in silos aangebied word, word baie studente, veral in lettere en sosiale wetenskappe, beperk tot één beskouiing: dat kapitalisme mense uitbuit. Meeste BA-studente, byvoorbeeld, kan nie Ekonomie as vak neem nie. (Dis natuurlik ‘n goeie voorbeeld van anti-kapitalisme: die inperking van keuses.) En selfs al sou hulle Ekonomie neem, sou hulle in hul eerste jaar meer te doen kry met modelle wat elastisiteite en inflasie verduidelik en minder met die oorsprong van welvaart en armoede.
Dit beteken dat ‘n hele generasie opinievormers ‘n wanbegrip van die mark het. ‘n Wonderlike voorbeeld kom uit Azille Coetzee se nuwe boek ‘In my vel’. Op bladsy 62 beskryf sy ‘n interaksie tussen haar en haar buitelandse woonstelmaats:
‘“Almal wat middelklas is in Suid-Afrika stel ’n skoonmaker aan,” probeer ek hierdie wanpersepsie ook regstel. “Arbeid is goedkoop, want daar is arm mense. So byna geen wit mense skrop hul eie vloere en toilette nie.”
“Oh, like apartheid?” vra Astrid.
“Nee … nie meer nie,” stamel ek, “maar ja, dit is ’n rasse-ongelykheid wat uit apartheid spruit. Maar ook gewoon neoliberale kapitalisme, ’n mens sien dit in Amerika ook.”’
Net soos die joernalistiekstudente, het Coetzee ‘n verwronge persepsie van kapitalisme. Apartheid se probleem was nie te veel kapitalisme nie; dit was te min kapitalisme. Dit was ‘n stelsel waar die staat – nie die vrye mark nie – mense se vryhede ontneem het. Mense kon nie kies waar hulle woon of werk, met wie hulle trou, of waar hulle skool gaan nie. Apartheid was anti-vryheid.
Die manier waaroor ons praat oor kapitalisme maak saak. As ons die volgende generasie opinievormers oplei deur hulle net blootstelling te geen aan ‘n verwronge ideologie, dan gaan hulle die antwoorde tot ons geweldige samelewingskwale op die verkeerde plekke soek. Ons gaan sondebokke maak van die mense wat juis die sleutels tot ons sukses het: entrepeneurs wat werksgeleenthede skep waar ons kan werk en met hul nuwe produkte en dienste vir ons almal meer keuses bied.
Die vryhede van kapitalisme is die fondasie van ‘n welvarende samelewing. Ons kort meer eerder as minder kapitalisme. Laat ons nie die volgende generasie ontneem van hierdie waarheid nie.
* 'n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 16 September in Rapport verskyn.
** Ivo Vegter het in Rapport van 23 September op my skrywe repliek gelewer – 'Verlief op 'n gek idee'. Lees dit hier. The Daily Maverick published an English version.
*** Enkele briewe van repliek het ook in Rapport verskyn. Lees hier.