Prioriteit nommer een: werkskepping
Ek glo dat alle mense in een van twee kampe verdeel kan word: dié wat glo dat rykdom verkry word deur van ander te neem, of dié wat glo dat rykdom geskep word. Kyk maar na veruidelikings vir die nywerheidsomwenteling wat in Engeland in die agtiende eeu begin het.
Sommige beweer dat die rede vir hierdie merkwaardige toename in produksie die gevolg was van koloniale uitbuiting, waarvan die Karibiese suikerplantasies wat deur slawe uit Afrika bedryf is die vernaamste was. Ander beweer dat, hoewel sulke uitbuitende arbeidspraktyke inderdaad tragies was, dit nie ‘n fraksie van die groei in lewensstandaarde van die gemiddelde Engelsman kan verduidelik nie. Slawerny is ‘n eeue-oue instelling; hoekom sou dit in die agtiende eeu skielik tot welvaartskepping lei?
Nee, dit was die nuwe tegnologieë soos die Spinning Jenny, aangevuur deur beter politieke en ekonomiese instellings, waaronder vryer internasionale handel en mededinging, wat Engelse werkers baie meer produktief gemaak het. ‘n Meer produkiewe werksmag beteken groter winste vir maatskappye wat hul toelaat om hoër lone te betaal.
Vandag verdien die gemiddelde Engelsman 29 keer meer as die gemiddelde Engelsman van die sewentiende eeu. Anders gestel: die gemiddelde Engelsman verdien meer in twee weke vandag as wat die gemiddelde Engelsman in ‘n jaar sou verdien 300 jaar gelede. (Terloops, die gemiddelde Jamaikaan is sewe keer ryker as in 1850; nog ‘n bewys dat uitbuiting sukkel om ekonomiese ontwikkeling te verduidelik.)
Vandag se beleidsmakers kan in dieselfde twee kampe verdeel word. Sommige glo dat die beste manier om arm mense op te help is om van die rykes te neem. Verskeie beleidsvoorstelle is tans op die tafel (of reeds afgeteken) wat in pas is met hierdie denkrigting: grondonteiening sonder vergoeding, welvaartsbelastings, nasionale gesondheidsversekering. Herverdeling, vir hierdie denkskool, is die pad na rykdom.
Moet my nie verkeerd verstaan: sinvolle herverdeling is nodig in enige land om die weerloses te beskerm. En dit is noodsaaklik in ‘n land soos Suid-Afrika vanweë ons geskiedenis. Maar wat hierdie denkskool vergeet is dat Suid-Afrika reeds een van die mees progressiewe belastingstelsels wêreldwyd het. Mashekwa Maboshe en Ingrid Woolard bereken in ‘n konsepartikel in 2018 dat 86.9% van alle inkomstebelasting deur die 10% rykste Suid-Afrikaners betaal word. (Sien skets hieronder.) Die naasrykste 10% betaal ‘n verdere 10.4% en die res – 80%! – betaal minder as 3%. Die goeie nuus is dat die staat hierdie inkomste met welslae herverdeel deur sosiale toelae en ander goed-geteikende uitgawes: Maboshe en Woolard toon dat mense onder die broodlyn met twee-derdes verminder en die Gini koeffisient, ‘n maatstaf van ongelykheid, effe verlaag. Die slegte nuus is natuurlik dat indien hierdie top 10% besluit om hul heil elders te soek kan dit die staatskas baie vinnig in groot moeilikheid laat.
Mabosheand Woolard (2018), ‘Revisiting the impact of direct taxes and transfers on poverty and inequality in South Africa’
Die feit van die saak is egter dat selfs met al hierdie herverdeling kan armoede en ongelykheid nie volhoubaar getakel word nie. Dit is omdat die bron van welvaart nie in herverdeling lê nie maar in produktiwiteit van mense. En produktiwiteit word beloon in die arbeidsmark. Hoewel die amptelike werkloosheidsyfer 29% is, die hoogste nog, is 60% ‘n baie meer belangriker syfer om in gedagte te hou: dit is die hoeveelheid volwasse Suid-Afrikaners wat nie werk nie. Dit is verbysterend hoog. Om die rykes se inkomstes te herverdeel sal nooit genoeg wees om hierdie mense ‘n goeie lewe te gee nie. Hulle moet eenvoudig ‘n inkomste in die arbeidsmark verdien. Werskepping is die sleutel tot Suid-Afrika se sukses.
‘n Nuwe studie deur drie navorsers by SALDRU aan die Universiteit van Kaapstad vind presies dit. Hulle bestudeer die redes hoekom Suid-Afrikaners in en uit armoede beweeg. Ek som hul resultate op: ‘Die noodsaaklike rol van die arbeidsmark is duidelik: 1) of ‘n persoon ‘n werk het of nie is die mees belangrike faktor om te bepaal of iemand bestand teen of kwesbaar vir armoede is, 2) die vernouïng van die vaardigheidsgaping en die vermeerdering van beide die hoeveelheid en kwaliteit van werksgeleenthede is nodig om groter getalle mense uit armoede te lig, en 3) beleidsmakers gaan moet besluit tussen buigsame arbeidsmarkwetgewing wat nuwe werksgeleenthede skep en die behoud van min maar meer beskermde werksgeleenthede.
Hulle het reg, hoewel hulle té diplomaties is. Suid-Afrika moet baie vinnig besluit oor watter tipe samelewing ons wil wees. Ons kan óf ‘n land wees waar net 40% van mense werk en waar net ‘n kwart van daardie werkendes se surplusse gebruik word om die res tot net bo die broodlyn te help. Ons kan herverdeel tot ons blou is, maar die ongelykheid en armoede (en populisme en misdaad en fisiese- en geestes-ongesondheid) gaan voortleef.
Óf ons besef dat die enigste manier om Suid-Afrika weer terug op ‘n volhoubare pad van welvaartskepping (vir almal) te plaas is om dit vir entrepreneurs maklik te maak om wins te maak en werk te skep. En dis nie dat ons eers die onderwysstelsel heeltemal moet regruk nie, hoewel dit ‘n goeie begin sal wees. Die goeie nuus is dat ons onlangs nog daar was. In 2006 het Suid-Afrika ekonomiese groei van bo 4% gehad, werkloosheid was aan die verminder en armoede was vinnig besig om te daal (ook, terloops, ongelykheid). Ons het so goed gedoen dat die staat ‘n surplus op die begroting kon registreer – meer belastingbetalers en minder sosiale toelaag-ontvangers.
Met die regte beleid kan ons weer daar wees. Maar dit gaan ‘n daadwerklike poging verg om die populistiese waansin van ekstreme herverdeling te pos en te vervang met beleid wat werkskepping deur die privaatsektor prioritiseer.
* 'n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 18 Augustus in Rapport verskyn.
**Image source: Nic Bothma/EPA.