Oop-oog optimisme nou nodig
Daar is vir my min dinge so frustrerend soos om te wag in ‘n ry. Ongeag of dit die verkeer of ‘n bank of Binnelandse Sake of Game op Swart Vrydag is, dit voel altyd asof ek die verkeerde ry kies. Daar is altyd ‘n oom wie se sak appels nie ‘n kode op het nie. Of ‘n tannie wie se kaart nie werk nie.
Wat nodig is, is geduld. Maar geduld is nie ‘n waarde wat ons samelewing koester nie. Dis ‘n cliché om te sê dat ons in ‘n wêreld leef wat kitsoplossings vir als bied – van kitskos (jou McDonalds afgelewer met UberEats) tot kitsliefde (vee net regs op Tinder). Maar clichés is clichés vir ‘n rede. Elke dag moet ons tydstate en begrotingsmylpale en navorsingsuitsette invul om ons produktiwiteit te meet en te evalueer teen ander. Hoe vinniger en hoe meer, hoe beter.
Ramaforia het hierdie hunkering na spoed versinnebeeld. In 2018 het ons die diepte van ons land se wanbestuur besef en 2019 was die jaar wat ons hierdie probleme sou begin aanspreek. Met ‘n suksesvolle sakeman soos Ramaphosa aan die stuur, sou ekonomiese groei begin optel, belastinginkomste toeneem, skuld verminder, werkloosheid daal, en die doemprofete uiteindelik moes erken dat die nuwe Suid-Afrika nie onvermydelik op ‘n afgrond afstuur nie.
En hier sit ons aan die einde van 2019. In die donker.
Miskien, dink ek hardop, het die doemprofete dit reg. Miskien is Ramaphosa nie wat ons gehoop het hy is nie. Of miskien is daar net te veel faktore wat één persoon of selfs één span van lojale volgelinge nie kan oplos nie. Miskien is die beste wat mens kan doen om maar jou goed te pak en te waai na wie-weet-waar hulle ookal bereid is om jou te akkommodeer.
Miskien.
Maar dis nie ‘n lewensfilosofie wat my aanstaan nie. Ek, en ek wil dink meeste lesers, het dalk nie baie geduld nie, maar ons is oorwegend optimisties oor dinge. As ons voorgeslagte nie optimisties was nie – om te oorleef ten spyte van die geweldige struikelblokke van die verlede – sou ons nie hier gewees het nie. Dis soos David Landes skryf: ‘Hierdie wêreld behoort aan die optimiste, nie omdat hulle altyd reg is nie, maar omdat hulle positief is. Selfs as hulle verkeerd is, is hulle positief, en dit is die pad na prestasie, regstelling, verbetering en sukses. Ingeligte, oop-oog optimisme lewer resultate; pessimisme bied slegs die leë troos dat jy somtyds reg is.’
Daar ís veranderinge wat my optimisties maak oor 2020. Luister maar na ‘n paar ervare ekonome wat al donkerder tye gesien het. JP Landman skryf in Augustus oor Ramaphosa se eerste treë om staatskaping om te draai. In November skryf hy oor Tesourie se uitbedreide pogings om die staatsfinansies te stabliseer en só die fondasie vir groei te skep. Roelof Botha, in ‘n rubriek verlede week, spel van hierdie suksesse verder uit: veral die styging van 18% in reële kapitaalvorming die afgelope twee kwartale is iets om oor opgewonde te raak.
Hierby sal ek onlangse internasionale gebeure tel, soos die sekerheid dat Brexit wel gaan plaasvind in 2020 (wat geleenthede vir Suid-Afrikaanse uitvoerders skep) en ‘n handelsooreenkoms tussen Amerika en China (wat wêreldhandel sal stabiliseer en beleggers groter aptyt vir risiko sal gee).
Dit beteken nie als gaan môre anders wees nie. Ramaphosa, soos sy jare onder Zuma illustreer, het meer geduld as die gemiddelde persoon. Sy strategie kan frustrerend wees vir die res van ons, veral vir dié wat werk soek, of kinders universiteit toe moet stuur, of moet aftree. Ons bly soek na daardie magiese kitsoplossings; ‘n Rassie wat ons ekonomie kan betower.
Maar die Suid-Afrikaanse ekonomie is nie ‘n rugbyspan nie. Die uitdagings is geweldig, en dit gaan tyd en taktiek verg om die skip om te keer. Ons moet geduldig wees. ‘n Ekonomie op die rand van ‘n afgrond draai nie in 18 maande om nie. Ons vergeet dat meeste ekonomiese wonderwerke – Korea in die 1970s, China in die 1980s, Indië in die 1990s – etlike jare gevat het om die ekonomie te transformeer tot groeikoerse bo 5% per jaar.
Oop-oog optimisme vereis ‘n kritiese benadering, maar nie ‘n siniese een nie. Dit vereis dat ons nie net vaskyk in die uitdagings nie, maar soek na geleenthede. Dit vereis dat ons kanse waag, uit ons mislukkings leer en weer probeer. Soos 2019 se Nobelpryswenners vir Ekonomie, Abhijit Banerjee en Esther Duflo, in hul wonderlike nuwe boek, Good Economics for Hard Times, opmerk: ‘Die vermoë om te droom, of ‘n beduidende dosis oordrewe selfvertroue, is nodig om die status quo te verander’.
‘n Vriend stuur ‘n week of wat gelede ‘n spotprent met Ramaphosa wat sit by ‘n kers. Hy sê iets soos: ‘Welkom by die Vierdie Industriële Rewolusie’. Dit laat my elke keer lag.
Maar miskien is ‘n kers juis die simbool wat Suid-Afrika in hierdie Kersseisoen nodig het. Dis die anti-korttermyn kitsoplossing, die anti-produktiwiteitsmylpaal, die anti-Ramaforia. Dis die optimisme om te droom oor ‘n beter toekoms, en die geduld om dit te maak werk. Dis die lig in ‘n donker, gefrustreerde land.
* 'n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 22 Desember in Rapport verskyn.
**Image source: Rico, 2019.