Ons almal kan in 2018 doen met ‘n bietjie Da Vinci
Wat ek van 2017 sal onthou, is dat dit somtyds betaal om ‘n kans te vat. Om ‘n nuwe koers in te slaan, om jou grense uit te daag, is nie iets wat vir meeste van ons natuurlik kom nie. En selfs al sou ons wou, is die beperkinge op ons tyd en finansies van só ‘n aard dat ons selde kan bekostig om te waag. Of, erger nog, die vrees vir mislukkig, vir vernedering, maak dat ons gereeld ons oë toemaak wanneer ‘n goeie geleentheid verbykom. Meeste van ons is immers geprogrammeer om die veilige opsie te kies.
Maar dit is selde dié wat die status quo handhaaf wat die wêreld verander. Ek is tans besig om my weg te vind deur Walter Isaacson se nuwe en indrukwekkende biografie oor Leonardo da Vinci. (Isaacson het, onder andere, reeds Steve Jobs en Albert Einstein se biografieë geskryf.) Net soos Isaacson se ander onderwerpe, is Da Vinci ‘n huishoudelike naam. Skilder, uitvinder, musikant, natuurwetenskaplike, ontwerper, shirurg, ingenieur; Da Vinci se CV sluit in die wêreld se twee bekendste skilderye en baie van ons alledaagse gebruiksartikels (die geweer, die fiets). Maar lees deur die eerste paar hoofstukke van Isaacson se boek, en Da Vinci se lewe lees baie minder soos dié van iemand wat bestem was om beroemd te wees.
As ‘n buite-egtelike seun wat deur sy pa se ouers grootgemaak is, het Da Vinci homself op die buitewyke van sy familie en die samelewing bevind, buite die binnekring van invloed en welvaart. Hy was ‘n vegetariër omdat hy geglo het, vreemd vir sy tyd maar sedertdien korrek bewys, dat diere ook pyn voel. Da Vinci was ook homoseksueel, wat nie gehelp het om die guns van die magtige Rooms-Katolieke Kerk, sy grootste bron van werk as skilder, te wen nie.
Isaacson argumenteer dat dit juis weens al hierdie faktore was dat Da Vinci die vrye teuels gehad het om te kon eksperimenteer met sy kuns en ontwerpe. Hy is nie gedwing om die roete wat sy familie vir hom bestem het, te volg nie. Sy pa was van ‘n lang lyn notarisse, en die verwagting was dat sy eerste seun ook ‘n notaris sou word. As Da Vinci dus binne die huwelik gebore is, sou die Mona Lisa waarskynlik nooit bestaan het nie.
Dit was nie net die vryheid van beroepskeuse wat Da Vinci bemagtig het om te doen wat hy het nie; dit was ook die vryheid van Florence aan die einde van die vyftiende eeu. Hoewel die kerk streng morele reëls gehad het, het die stadsvaders mense met talent – watookal hulle herkoms, seksualiteit of geaardheid – verwelkom. Byna al die vaders van die Renaissance – Michelangelo, Donatello, Botticelli – het nie binne die kerk se ‘boksie’ gepas nie. Hierin is ‘n les vir ‘n wêreld wat al hoe minder tolerant is van ‘die ander’: enige stad wat wil ontwikkel, het die beste, mees vindingryke mense nodig om dit te doen.
Maar dit was nie net vryheid wat vir Da Vinci toegelaat het om merkwaardige dinge te doen nie; dit was, volgens Isaacson, Da Vinci se intense behoefte om die wêreld rondom hom te verstaan. In teenstelling met wat ek aanvanklik gedink het, was Da Vinci nie buitengewoon intelligent nie; hy het gesukkel om selfs basiese wiskunde baas te raak, en het lank sonder sukses probeer om Latyn te leer. Maar dit het hom nie gekeer om met van die top akademici van daardie tyd te gesels oor elke onderwerp denkbaar, en om hierdie kennis – die kunste en die wetenskappe – met mekaar te meng nie. Da Vinci se groot sterkpunt was wat ons vandag sal noem sy vermoë om interdissiplinêre navorsing te doen; om die grense tussen vakgebiede oor te steek.
Twee weke gelede het ek die voorreg gehad om ‘n groep van agttien Stellenbosse studente na België te vergesel. Die studente, almal top van hul veld, het deur die loop van die jaar gesels oor die tema – Kuns en die Wetenskap: Is dit ‘n blywende verhouding? In Leuven het hulle saam met Belgiese studente ‘n uitstalling gehou om hulle resultate ten toon te stel.
Wat my verstom het van die uitstalling was dat die beste stalletjies dié was waar studente van verskillende vakdissiplines saamgewerk het. Voorbeeld: sit ‘n klomp ingenieurs by ‘n stalletjie, en die resultate is minder indrukwekkend as wanneer ‘n filosoof of regsstudent bykom. Die geheel is inderdaad groter as die som van sy onderdele.
Miskien kan ons almal doen met ‘n bietjie van Da Vinci se interdissiplinêre denke. Vasgevang met die boeke wat nie wil klop nie? Stof miskien daardie kitaar af. Moeg na ‘n lang dag in die laboratorium? Gaan eet aandete saam met ‘n entrepreneur. Moeg vir papierwerk? Speel Lego.
Dwing jouself om in 2018 ‘n nuwe grens oor te steek, om ‘n kans te vat. En skep ‘n ruimte vir dié rondom jou om dieselfde te doen.
*Photo by Nidhi Bhat on Unsplash.