Na wie luister ons as ons luister na ons president?
Ongeag hoe die Covid-19 pandemie uitspeel, sal een van die mees onvergeetlike beelde van 2020 sekerlik Cyril Ramaphosa voor die skerm wees. Met antisipasie (en ‘n tikkie ongeduld) kyk ons hoe die tyd verbytik voordat Ramaphosa verskyn en ons saam as ‘n land, met apologie aan Breytenbach, ‘luister na die nag se nuus’.
Dit gebeur nie net in Suid-Afrika nie. In talle lande skakel mense in om te luister na hul president, sommige vir bemoediging en ander, wel, vir vermaak. Donald Trump praat byna elke aand op die kassie, vermoedelik om te keer dat die virus nie te veel van sý lugtyd steel nie.
Dis ook nie net politici wat praat nie. Die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout het vir baie Suid-Afrikaners ‘n grendelstaatinstelling geword. Baie van ons het nuwe bloggers of vloggers ontdek. En nou wat akademiese seminare by van die voorste universiteite ter wêreld aanlyn skuif, het on shier aan die suidpunt van Afrika skielik toegang tot van die voorste kenners in die gemak van ons sitkamer. Nie net kry ons blootstelling aan die beste idees nie, maar die aanbieders kry ook insette van gehore wat nooit voorheen ‘n bydrae kon maak nie. Covid-19 is beslis ‘n hupstoot vir die demokratisering van wetenskap.
Ons mag dink dat waarna ons kyk en wat ons lees onbelangrik is – ‘n manier om net die tyd te verwyl – maar dit sal verkeerd wees. Ons glo wat ons lees en na wie ons luister, en ons maak ons besluite op grond van daardie inligting, bewustelik of onbewustelik, ten goede en ten kwade. Die spreekwoordelike pen (of sleutelbord of selfoonkamera!) is inderdaad soms magtiger as die swaard.
Watter bewyse kan ek aanbied om hierdie stelling te ondersteun? Dit is natuurlik baie moeilik om oorsaaklikheid te bepaal. Miskien kies slimmer mense om na goeie advies te luister en daarom neem hulle goeie besluite. Dit is met ander woorde nie die advies wat hulle goeie besluite laat neem nie, maar eerder hulle keuse na wie om te luister. Wat mens dus nodig het is ‘n eksperiment waar sommige mense lukraak aan goeie advies blootgestel word en ander nie. Só ‘n eksperiment sal egter nooit verby ‘n etiese komitee kom nie: mens kan tog nie vir sommige mense in ‘n steekproef bewustelik verkeerde inligting gee en kyk wat die effek is nie.
Maar dit gebeur wel in die werklikheid. En daar is geen beter voorbeeld as tydens die Covid-19 pandemie nie. Amerika het ‘n enorme kabelnuusnetwerk. Twee van die mees bekende programme is Hannity en Tucker Carlson Tonight, en beide word vertoon op Fox Nuus. Iets vreemds het egter gebeur aan die begin van Februarie. Toe die virus Amerika tref, het Carlson dadelik sy luisteraars gewaarsku oor die gevare van die virus. In teenstelling het Hannity aanvanklik die impak van die virus ontken. Soos die virus egter versprei het, het hy sy opinie verander, maar nie voordat duisende Amerikaners sy voorbeeld gevolg het en die virus ignoreer het nie.
Die kykers van Hannity en Tucker Carlson Tonight het grotendeels dieselfde demografie en kan daarom met mekaar vergelyk word. En dit is presies wat ‘n span ekonome van Harvard, Chicago, Warwick en Zurich pas gedoen het. Hulle wys eers dat Hannity wel die kluts kwyt was deur afskrifte van sy gesprekke te vergelyk met dié van Carlson: Hannity het eers na etlike duisende Amerikaners gesterf het sy opinie oor die virus verander. Die ekonome gebruik dan data van ‘n landswye opname wat toon dat Hannity se opinies ook sy kykers se opinies beïnvloed het.
Die merkwaardige ding is dat hierdie verskillende opinies ook tot verskillende gedrag aanleiding gegee het. Die span navorsers wys dat Hannity se luisteraars baie meer geneig was om Covid-19 op te doen en ook, tragies, daaraan te sterf. Teen 15 Maart was 30% meer Hannity-kykers siek as Carlson-kykers. Hulle wys ook dat nadat Hannity sy storie verander het, die verskil verminder. Teen middel-April was daar geen verskil meer in die infeksiekoerse nie, maar wel groot verskille in die aantal sterftes.
Die Hannity teenoor Carlson eksperiment is ‘n fassinerende en effens skrikwekkende voorbeeld van hoe die media wat ons verbruik ‘n geweldige effek op ons kan hê. Vir baie Amerikaners het Hannity se boodskap letterlik hul dood beteken.
Die punt is dat ons toegang tot inligting nie net ons verstaan van die wêreld beïnvloed nie, maar ook ons gedrag kan verander. Dis ook waarom die toenemende isolasie van gesprekke op veral sosiale media – ‘n eggokamer waar ons bestaande vooroordele die heeltyd bevestig word – so gevaarlik is. Algoritmes geskryf deur japsnoete in Silicon Valley bepaal wat Facebook, Instagram en Twitter ons voer, en hierdie platforms raak ‘n al groter deel van ons nuusverbruik. Nie net versterk dit ons bestaande idees oor hoe die wêreld werk nie, maar dit kan ook tot uiteenlopende gedrag aanleiding gee. Dis hartseer dat juis in ‘n tyd waar gesaghebbende nuusbronne meer belangrik raak, mediamaatskappye die een na die ander toemaak.
Dieselfde eggokamer is natuurlik ook waar vir ons leierskorps. Die mense wat Ramaphosa omring bepaal wat hy dink en doen. Met ‘n nasionale bevelsraad wat nie eens aan die parlement verantwoording doen nie, weet ons eenvoudig nie watter inligting die president se besluite beïnvloed nie. En dis kommerwekkend, want hoe weet ons of dié in die dampkring van die president werklik die belange van die land se mense op die hart dra en hul beleid gegrond op die mees relevante ekonomiese en epidemiologiese kennis?
Ons wil nie net Cyril op die kassie sien nie, maar ook wie agter hom staan.
* ‘n Geredigeerde weergawe van hierdie skrywe het in Rapport van 17 Mei verskyn.
**Image source: GCIS.