Kompetisie op die sportveld (en in die sitkamer)
Hierdie is ‘n naweek wat daar strawwe kompetisie in die sitkamer gaan wees vir die afstandbeheer. Dis toetskrieket, en Tour de France, en Cravenweek, en Wimbledon, en, natuurlik, die finaal van die Sokker Wêreldbeker. Dis ‘n fees vir beide sportentoesiaste en vir die wat nié sport kyk nie, solank hulle net nie in dieselfde kamer hoef te wees nie.
Sport het ‘n mega-industrie geword. Dis nie ongehoord vir die top sokkerspelers in die Engelse Premierliga om meer as £300 000 per week te verdien nie. En dit sluit natuurlik borgskappe en ander meevallers uit. Dis heeltemal genoeg rede om mens boos te maak wanneer van die spelers so rondtol na ‘n kwansuise stamp teen die skeen.
Maar die groei van die sportindustrie het ook plaaslik ‘n effek. Skolerugby het die afgelope paar jaar getransformeer, in die ware sin van die woord. Skoollaaities is nou professioneel, net soos hul sokker eweknieë, en die Cravenweek is die plek waar die beste van Suid-Afrika se toekomstige rugbytalent konvergeer. En die kompetisie is besig om te verander – veral as mens oor die langtermyn kyk.
Ek het deur ‘n paar ou rugbyjaarboeke geblaai, en die Herfindahl-Hirschman indeks (HHI) bereken van vier Cravenweekspanne – die Vrystaat, Natal, Leeus en Westelike Provinsie – vir 1977, 1987,1997, 2007, 2017 en 2018. (Voetnota: die Leeus het nie ‘n span in die 1977 kompetisie gehad nie.) Die HHI is ‘n algemene maatstaf om die konsentrasie van ‘n industrie te meet: ‘n hoë syfer beteken dat die industrie deur een of twee firmas domineer word, ‘n lae syfer beteken dat daar baie deelnemers is, wat natuurlik goed is vir kompetisie. Die Suid-Afrikaanse mededingingskommissie kyk veral na ‘n sektor se HHI wanneer hulle moet besluit om oornames of samesmeltings toe te laat, al dan nie.
Die grafiek hiernaas toon die toename in konsentrasie van skole waaruit spelers vir die Cravenweek gekies word. Dit lyk of dinge in die 2000s verander. (Om die presiese datum vas te stel, sou mens graag al die jare wou doen, en al die spanne, nie net elke 10 jaar nie.) Waar spanne in die 1990s en vroeër deur ‘n wye verskeidenheid skole bedien is, word meeste spelers deesdae gekies uit ‘n handjievol top rugbyskole. ‘n Ander manier om dieselfde voor te stel, is om bloot die hoeveelheid skole te tel wat by die Cravenweek verteenwoordig word. Ek het dit net gedoen vir die spanne wat hier ontleed is, maar die tendens is duidelik: terwyl 33 skole in 1997 en 2007 nog spelers vir hierdie vier spanne gelewer het, was dit in 2017 net 23 en in 2018 net 26. Die Vrystaatse span wat verlede jaar met WP afgereken het, het spelers van net twee skole, Grey College en Louis Botha, gehad.
Hierdie tendens laat meer vrae as antwoorde: Wat verduidelik die toename? En, dalk meer belangrik, is dit goed vir Suid-Afrikaanse rugby? Oor die oorsake kan mens tans net spekuleer. Omdat alle sportsoorte, insluitende rugby, meer aantreklike salarisse vir top sportslui aanbied, trek rugby as beroep meer belangstelling van spelers. Skole wat goeie fasiliteite en afrigters aanstel gaan noodwendig beter spelers kan werf. Hierdie skole ding ook mee met mekaar vir roem, aansien en die vet tjekboeke van alumni, sodat hulle beurse kan aanbied aan belowende jong spelers. Só konsentreer die beste spelers in die beste skole. Terloops, dis nie net waar vir rugby nie. Die laaste drie krieketspelers wat vir die Proteas se toetsspan gekies is – Aiden Markram, Andile Phehlukwayo en Lungi Ngidi – kom al drie uit top krieketskole.
Is dit ‘n goeie ding? Dit hang af. Dis nie noodwendig sleg vir die beste spelers wat na topskole gelok word nie; hulle kry toegang tot goeie afrigting, fasiliteite en werwers hou hulle gereeld dop. Boonop is ‘n span net so goed soos sy swakste skakel, en hoe beter die spelers in jou span, hoe beter gaan jy ook vertoon. Maar werwing is nie ‘n harde wetenskap nie, en daar is moontlik baie jong spelers wat eers later hulle potensiaal bereik. ‘n 2011-studie van sportwetenskaplikes toon dat baie min van die Cravenweekspelers op o/13-vlak weer op 0/16 en 0/18-vlak gekies word. En sommige spelers ontwikkel baie later. Dink maar aan Pieter Rossouw, Springbokvleuel van formaat en nou afrigter van Paarl Gimnasium se eerstespan, wat nie eens op skool gereeld die A-span kon haal nie. Of Kevin Pietersen, wat maar ‘n gemiddelde wegbreekbouler in Suid-Afrika was voor hy na Engeland uitgewyk het, waar hy een van die beste toetskolwers van sy generasie sou word. In die Suid-Afrikaanse konteks is dit veral problematies, omdat baie swart spelers nie vroeg aan skolesport blootgestel word nie, wat die poel van potensiële spelers kleiner hou as wat dit kan wees.
Te min kompetisie is sleg vir ‘n industrie – en die verbruiker. Dit is ‘n probleem in die Engelse Premierliga, waar klubs soos Manchester City, Manchester United en Chelsea se groot koffers beteken dat hulle die liga gereeld domineer. Maar net so kan mens nie verwag dat die groot bedrae geld in sport geen effek op die konsentrasie van spelers in topskole sal hê nie; dit beteken eenvoudig ons beste spelers is meer voorbereid vir ‘n beroepslewe in rugby. Die uitdaging is om ‘n manier te vind om goeie spelers (en nie net die groottes nie) vroeg te identifiseer, en dan te ontwikkel in ‘n omgewing met ‘n gesonde balans van konsentrasie en kompetisie.
*An edited version of this was first published in Rapport on 10 July. Photo by Gustavo Ferreira on Unsplash.