Is bevolkingsgroei die wêreld se grootste probleem?
In 1800 was daar een biljoen mense op aarde. Nog teen die 1930s was die wêreldbevolking onder die drie biljoen merk. Vandag, skaars ‘n generasie later, leef en beef 7 biljoen mense op aarde.
Hierdie geweldige toename in die hoeveelheid mense wat moet eet en drink, woon en werk het al baie mense slapelose nagte gegee. Die denkers Aristotle en Confucius het meer as tweeduisend jaar gelede oor oorbevolking gewaarsku. Die agtiende-eeuse Thomas Malthus was bekommerd dat bevolkingsgroei net in hongersnood kan eindig. En die mees bekende twintigste-eeuse waarskuwing was waarskynlik die Stanford professor Paul Ehrlich wat in sy 1968 boek, The Population Bomb, grootskaalse hongersnood in die 1970s en 1980s weens oorbevolking voorspel het.
Maar dit het nooit gebeur nie, en hongersnood is nie vandag een van die wêreld se grootste probleme nie. Inteendeel, die persentasie van mense wat honger ly het dramaties oor die twintigste eeu afgeneem, ten spyte van die geweldige toename in die aantal mense wat moet eet. Tog het die onlangse beelde van Siriese vlugtelinge wat Europa instroom weer sommige hardop laat wonder: is bevolkingsbeperkings soos dié van China nie die enigste manier om aanhoudende konflik oor hulpbronne te voorkom nie?
Nee, dit is nie. Die goeie nuus is dat ons niks hoef te doen om die wêreldbevolking op ‘n volhoubare vlak te kry nie; dit gebeur alreeds. In die jaar 2000 reeds het die wêreldbevolking die kindhoogtemerk bereik, dit wil sê, die vlak waar die hoeveelheid kinders nie meer toeneem nie. Dit is ongeveer 2 biljoen. Die nuutste projeksies is dat teen die jaar 2100 daar steeds net 2 biljoen kinders sal wees. Teen daardie tyd sal die wêreldbevolking tot 11 biljoen aangegroei het, en daar stabiliseer. Hoe kan die hoeveelheid kinders dan dieselfde bly maar die wêreldbevolking groei met 4 biljoen? Omdat daar vandag baie minder oumense is as wat daar in 2100 sal wees; die oumense van vandag is gebore in ‘n tyd toe daar skaars 1 biljoen babas gebore is.
Hoekom het die hoeveelheid kinders dan teen die jaar 2000 ophou groei? Dit is nie slegs weens China se een-kind-per-huishouding beleid nie. In byna elke land, maar veral in Asiatiese lande, het die hoeveelheid kinders per huishouding merkwaardig gedaal. Hoekom? Omdat meer kinders as ooit tevore oorleef, en ouers dus nie meer nodig het om baie kinders te kry met die hoop dat slegs ‘n paar tot volwassene oorleef nie.
Die gemiddelde huishouding in 1800, in Europa en elders, het ongeveer ses kinders gehad. Maar weens wisselvallige bestaansboerdery en swak gesondheidssorg is gemiddeld vier van hierdie ses kinders vroeg dood. Die getalle vir die Suid-Afrikaanse afstammelinge van Europese setlaars was soortgelyk, hoewel meer kinders hier oorleef het omdat hulle toegang tot meer proteine gehad het (en nie in die klam en sieklike stede van Europa moes oorleef nie). Jeanne Cilliers, ‘n PhD student in die Departement Ekonomie aan die Stellenbosch Universiteit het onlangs die fertiliteitskoerse van Europese setlaars in Suid-Afrika tydens die sewentiende en agtiende eeu bereken. Haar bevindings? Tot en met die 1850s was die fertiliteitskoers vir setlaarsvroue ongeveer 7 kinders. Daarna val die fertiliteitskoers dramaties.
Die rede hoekom die fertiliteitskoers van hierdie groep wat later die Afrikaners sou heet so dramaties geval het gee ons ook ‘n antwoord oor hoekom die wêreldbevolking tans stabiliseer. Die ontdekking van diamante en goud het wit Suid-Afrikaners stelselmatig ryker gemaak. Medikasie is ontwikkel wat miljoene lewens kon red. Weens nuwe innovasies het familiebeplanning ook makliker en meer bekostigbaar geword. Dit het beteken dat ‘n groter hoeveelheid van hul kinders oorleef het en daarmee saam moes hulle ‘n groter deel van hul begroting in kinders investeer soos die behoefte aan sekondêre en later tersiêre onderwys toegeneem het. In plaas van kwantiteit kies ouers kwaliteit.
Dieselfde gebeur in meeste streke van die wêreld vandag. Selfs in die digsbevolkte dele van Asië, soos Bangladesh, het vroue deesdae net twee kinders. Die enigste streek waar hierdie koers nog nie tot twee gedaal het nie is sub-Sahara Afrika. Die huidige bevolking van hierdie enorme wêreldstreek is 1 biljoen mense; teen 2050 sal dit 2 biljoen wees en teen 2100 4 biljoen (uit ‘n totale wêreldbevolking van 11 biljoen). Maar soos Afrikalande se inkomste toeneem sal dieselfde tendense ook hier gesien word. Dit is alreeds die geval in Suid-Afrika en in baie van die ander rykerwordende lande.
Daar kan natuurlik met reg gevra word of daar genoeg hulpbronne vir hierdie virvierdubbeling van die Afrika bevolking is. Dat dit spanning gaan veroorsaak is sonder twyfel. Maar dit gaan net soveel geleenthede bring vir entrepreneurs wat hierdie enorme mark moet bedien. Investeer maar in Shoprite en SAB.
Dieselfde vrese is natuurlik vir Asië in die 1960s geopper: daar was nóg minder grondgebied en die vrees was dat hongersnood die enigste uitkoms sou wees. Maar toe vind ‘n Groen Rewolusie plaas wat die produktiwiteit van boere merkwaardig laat toeneem; dieselfde gebeur reeds in baie Afrikalande.
Daar was nog nooit ‘n beter tyd om gebore te word as nou nie. Ten spyte van die kommerwekkende uitsprake van ons politici en die nuusflitse van terreur en geweldpleging regoor die wêreld, is die langtermynvooruitsigte vir die mensdom belowend. Natuurlik is kwessies soos klimaatsverandering ‘n groot kopseer. Kan ons vleis voorsien aan 11 biljoen mense? Of selfs net skoon drinkwater? Ek kan nie seker wees nie, maar waaroor ek wel seker is, is dat die mensdom al baie groter probleme moes oorkom (met baie swakker tegnologie tot hul beskikking), en dit toe wel kon regkry.
Oorbevolking is nie die probleem nie. Armoede en siekte (wat hoë fertiliteitskoerse veroorsaak) wel.
*Photo by Tim Mossholder on Unsplash.