Innovasie is ’n spansport
Dis wat ons op skool geleer is: Thomas Edison was die eerste om ‘n suksesvolle gloeilamp te bou. Maar miskien gee skoolhandboeke vir Edison te veel krediet. Op 3 Februarie 1879, reeds ‘n paar maande voor Edison se eerste demonstrasie, staan ‘n ene Joseph Wilson Swan voor ‘n gehoor van 700 mense in Newcastle, Engeland en wys hoe ‘n elektriese stroom die koolstofdraad binne ‘n glasomhulsel verlig. Vir Swan was dit die hoogtepunt van meer as 20 jaar se werk, terwyl Edison maar eers in 1878 aan die probleem begin dink het.
So was Swan dan eerste? Ook nie. Edison en Swan was maar net twee van ‘n hele klomp uitvinders was wat gewerk het om ‘n gloeilamp te ontwikkel. Om die waarheid te sê, teen die einde van die 1870s was daar 21 hoopvolles – van Rusland en Duitsland, tot België en Frankryk, tot Kanada en Amerika – wat die idee vir ‘n gloeilamp geproduseer, gepatenteer of gepubliseer het. Swan was egter die enigste een wie se patent so goed was dat Edison verplig was om sy latere winste met hom te deel – en dis ook Swan se skepsels 16 straatligte in Kimberley in 1882 aangeskakel het, selfs voordat London gehad het.
Die storie van die gloeilamp, skryf Matt Ridley in ‘n nuwe boek, How Innovation Works: And Why It Flourishes in Freedom, is nie een van ‘n heldhaftige enkele uitvinder nie. ‘Dit is eerder ‘n storie van innovasie as ‘n geleidelike, inkrementele, kollektiewe dog onvermydelike proses.’
En, mag ek byvoeg, belangrike. Innovasie is die rede hoekom ons soveel beter af is as ons grootouers en hulle soveel beter af was as hul grootouers. Die gemiddelde persoon is vandag 18 keer ryker as die gemiddelde persoon in die jaar 1800. Selfs in Afrika, vandag die armste kontinent, is die gemiddelde persoon 6 keer ryker as tóé. Wat verduidelik hierdie Groot Verryking, soos Deirdre McCloskey dit noem? Een woord: Innovasie. Soos Ridley opmerk, ‘innovasie is die mees belangrike feit van die moderne wêreld, maar ook een wat die swakste verstaan word’.
Om ons te help om innovasie beter te verstaan vertel Ridley verskeie verhale – van die ontstaan van die stoomenjin tot die soekenjin, van kunsmis tot kunsmatige intelligensie – en byna almal volg dieselfde trajek. Een van die eerste lesse: innovasie hang nooit net van een persoon af nie. Neem die binnebrandenjin: Ford het die goedkoop gemaak; Mayback het dit al die bekende kenmerke gegee; Levassor het belangrike toevoegings gemaak; Daimler het dit aan die loop gekry; Benz het dit maak werk op petrol; Otto het die enjinsiklus ontwikkel; Lenoir het die eerste rowwe weergawe gemaak; en De Rivaz het die idee gehad.
Groepwerk was ook waar vir die gloeilamp. Maar dit maak Edison nie minder belangrik nie. Want ten spyte van die feit dat Edison nie eerste was met die idee nie en ten spyte van die feit dat sy eureka-oomblik op 22 Oktober 1879 meer ‘n mite as realiteit was, was hy steeds die persoon wat al die komponente saamgebring het en dit by ‘n stelsel van elektrisiteitsopwekking en -verspreiding laat inskakel het. Meer belangrik: hy het die gloeilamp se leeftyd radikaal verleng. En dít was eerder persperasie as inspirasie: hy het 6000 verskillende plante getoets om uiteindelik by die regte materiaal uit te kom: Japanese bamboes. Edison, meer as enige ander uitvinder, het verstaan dat innovasie ‘n spansport is. En dat dit proefneming – herhaaldelike trial and error – vereis.
Die 99% persperiasie, soos Edison self gesê het, is ook hoekom innovasie iets anders as bloot uitvinding of ontdekking is. Fritz Haber het weliswaar ontdek hoe om stikstof met druk en ‘n katalisator uit die lug te onttrek, maar dit was Carl Bosch se jare van eksperimentering wat uiteindelik tot die vervaardiging van bekostigbare ammoniak aanleiding gegee het, en ‘n rewolusie in die landbou teweeggebring het.
Nog ‘n les van Ridley: Alle innovasie bring teenkanting, soms met tragiese gevolge. Dis waar in die negentiende eeu, toe Luddiete die Spinning Jenny en ander tekstielmasjiene stukkend geslaan het. En dis waar vandag. Mielieboere in groot dele van Afrika veg tans ‘n verbete stryd teen die kommandowurm, ‘n pes ingevoer uit die Amerikas. In Suid-Afrika is die wurm nie meer ‘n probleem nie omdat ons boere Bt-geneties gemanipuleerde mieliegewasse saai. Maar weens goedbefondsde opponente van geneties gemanipuleerde gewasse in Afrika (lees: Greenpeace), met Afrika-politici in hul sakke, word hierdie tipe gewasse in baie Afrikalande verbied, met geweldige negatiewe gevolge vir produsent en verbruiker. Dít terwyl die wetenskap duidelik toon dat daar geen negatiewe gevolge van geneties gemanipuleerde gewasse is nie.
Hoe skep mens ‘n samelewing wat innovasie omarm eerder as verdruk? Ridley sê: Dit is nie iets wat van bo af geforseer kan word nie. Innovasie is gereeld toevallig. ‘Die stigters van Yahoo! en Google het nie eens gemik om ‘n soekenjin te bou nie. Die stigters van Instagram wou ‘n rekenaarspeletjie bou. Die stigters van Twitter wou ‘n manier vind vir mense om podgooie op te spoor.’ Dit is waarom innovasie meestal plaasvind in liberale ekonomieë met hul eksperimentele kultuur. En dis ook waarom innovasie posvat in plekke van handel en interaksie, en nie in afgeleë en klein plekkies nie. Kalifornië eerder as Noord-Korea. Kaapstad eerder as die Karoo. Om die koffiemasjien eerder as in die kantoor.
Nie almal stem saam nie. Die ekonoom Mariana Mazzucato, iemand wat ook op Cyril Ramapahosa se Ekonomiese Adviesraad sit, skryf byvoorbeeld in haar 2014 boek, The Entrepreneurial State, dat die hoofbron van innovasie regeringsonderstuening vir navorsing en ontwikkeling wat ‘rigtinggewend’ is. Maar soos Ridley verduidelik, hierdie argument het geen basis in die geskiedenis nie: al die wonderlike innovasies van die negentiende eeu was heeltemal sonder regeringsinmenging.* Om die waarheid te sê, die regering het tipies hul bes gedoen om innovasie te blok. Dit is steeds die geval vandag. Ridley gee etlike voorbeelde van hoe die Amerikaanse en veral Europese regerings innovasie in die kiem smoor, deur meer wetgewing en regulasies in plek te stel. Kyk maar net hoe word geneties gemanipuleerde gewasse ook in Europe gestuit. Hoekom? Want groot maatskappye wil hul markaandeel beskerm – en hits die politici aan om dit vir nuwe toetreders so moeilik as moontlik te maak. Waar vrye mededinging gekniehalter word, daar duik innovasie in die hek. Boonop is daar min empiriese bewyse, skryf Ridley, dat patente, kopiereg en dergelike wetgewing wat oënskynlik moet help, enigsins innovasie aanvuur.
So watter innovasies kan ons binnekort verwag? Nog ‘n les uit die laaste 200 jaar is dat innovasie onvermydelik is. Maar die onvermydelikheid gaan gepaard met twee paradokse. Eerstens, die individu is meestal onbelangrik. Sonder Edison of Swan sou daar steeds ‘n gloeilamp gewees het, sonder Steve Jobs steeds ‘n slimfoon. Maar net omdat dit onvermydelik is beteken nie dis voorspelbaar nie: ‘Tegnologie’, skryf Ridley, ‘is belaglik voorspelbaar wanneer ons terugkyk, maar heeltemal onvoorspelbaar wanneer ons vorentoe kyk’. Daar is genoeg kenners wat die pot al lelik misgesit het: Steve Ballmer van Microsoft het in 2007 gesê dat daar ‘geen kans is dat die iPhone ‘n beduidende markaandeel sal kry nie’. En net om my eie professie nederig te hou, hier is die Nobelpryswenner ekonoom Paul Krugman in 1998: ‘In 2005 of so, sal dit duidelik wees dat die Internet se impak op die ekonomie niks meer as dié van die faksmasjien is nie’. Eina.
Tog hoef mens nie te ver in ‘n kristalbal te tuur om te voorspel dat die geweldige daling in die prys van sonkrag en ander hernieubare energie tot ‘n enorme energietransformasie gaan lei nie. Ditto die prys van RAM, robotte en ruimtereise. Maar in die meer nabye toekoms sal Covid-19 en die uitdagings wat dit bied ook nuwe geleenthede oopmaak. Hierdie geleenthede sal net benut kan word waar vryheid seëvier: die vryheid om handel te dryf, om te eksperimenteer, om te belê (en te misluk), vryheid van staatsinmenging deur hoë belastings en onteiening, en vryheid vir verbruikers om te kies watter innovasies om te beloon en watter nie. In die langtermyn is innovasie ons enigste kans op ‘n beter lewe vir almal. As Edison ons enigiets geleer het, is dit om met harde werk, daardie vryhede te beskerm wat die gloeilampe van die toekoms sal aanskakel.
* ’n Goeie voorbeeld hiervan is die nuus gister dat Pfizer en BioNTech ’n suksesvolle entstof teen Covid-19 getoets het. Die entstof is met baie min regeringssamewerking ontwikkel.
** ’n Geredigeerde weergawe van hierdie skrywe het in Rapport van 8 November verskyn.
***Photo by Jack Carter on Unsplash.