Hoe om (nie) ‘n huis te bou (nie)
Ek en Helanya het in Julie in ‘n nuwe huis ingetrek, een wat onsself laat bou het. Ons was so ‘n maand van trek voordat lockdown ons planne vir herfs in ons nuwe huis in die wiele gery het. Maar einde Junie moes ons uit ons woonstel, selfs al was als in die nuwe huis nog nie klaar nie. Vir die laaste paar weke, werkskaf die bouers rondom my aan die finale afwerkings; banke, blindings, en bokse vol boeke staan oral rond.
Huisbou is ‘n goeie metafoor vir wat ons land nou nodig het. Met die grootste ekonomiese insinking in meer as ‘n eeu gaan ons 2021 binnegaan met die gemiddelde Suid-Afrikaner wat net so ryk is as wat sy in 2006 was. In vyftien jaar het ons dus geen vooruitgang gemaak nie. Reeds voor 2020 het die mure van Huis Suid-Afrika reeds begin afdop en die vensters begin lek. Met die Covid-19 storm lyk dit asof die dak finaal wil ingee.
Hoe bou mens ‘n huis, ‘n plek waar die inwoners veilig voel teen die elemente en waar hulle genoeg vryheid het om hul drome te verwesenlik? Jy begin met 'n goeie plan. Die klem is op één goeie plan. Suid-Afrika het tans ‘n uiteenlopende getal argitekte, elk met hul eie visie vir hoe die Huis Suid-Afrika moet lyk. Net soos geen bouer ‘n huis kan baie bou sonder ‘n plan nie, kan geen bouer ook een bou met meer as een plan nie.
Verlede jaar het Tito Mboweni ‘n lang dokument bekendgestel wat as bloudruk vir die ekonomiese herstel van Suid-Afrika sou dien. Dit was ‘n uitstekende dokument, met ‘n fokus op die bemagtiging van die privaatsektor om werk te skep en groei aan te wakker. Maar daar was ongelukkig min konsensus in die regerende alliansie dat dít die huis was wat hulle wou bou – of, ten minste, dat dit die manier was hóé hulle dit wou bou.
Want, sien, meeste stem eintlik saam oor hoe Huis Suid-Afrika moet lyk: ‘n plek waar almal ‘n basiese lewenstyl kan geniet, waar die ongelykheidhede van die verlede vervang word met gelyke geleenthede om bo uit te kom. Die groot vraag is hoe kom ons by só plek uit.
Aan die einde van Julie antwoord Enoch Godongwana, die hoof van die ANC se ekonomiese transformasiekomitee, hierdie vraag met die aankondiging van ‘n nuwe bouplan: ‘n 30-bladsye dokument getiteld: ‘Heropbou, Groei en Transformasie: Die bou van ‘n nuwe, inklusiewe ekonomie’.
So wat stel hierdie bloudruk voor? Soos die naam aandui, fokus hierdie plan op infrastruktuur. Hierdie fokus moet verwelkom word. Soos enige bouer weet is ‘n huis net so sterk soos sy fondasies. ‘n Ekonomie se fondasies is die kragopwekkers, paaie, hawens en selfoontorings wat mense en firmas toelaat om sake te doen – en om die produkte en dienste wat hul produseer teen medegingende pryse na die res van die wêreld uit te voer.
Maar die duiwel is, soos altyd, in die detail. Hoe gaan ons hierdie nuwe infrastruktuur bou en befonds? ‘n Nuwe kantoor in die Presidensie, onder leiding van Kgosientso Ramokgopa, ‘n siviele ingenieur, voormale burgemeester van Tshwane en moontlike toekomstige presidentskandidaat, het reeds meer as vyftig reg-om-af-te-skop projekte identifiseer. Hoewel daar staatsfondse beskikbaar is, gaan meeste van die befondsing uit die privaatsektor en, waarskynlik, pensioenfondse kom. Dat pensioenfondse gaan belê is nie noodwendig ‘n slegte ding nie: dit is een manier vir die ouer generasie om in die jongeres te belê. Maar die sukses daarvan hang af of projekte gekies gaan word op grond van hul moontlike opbrengs en rol in die ekonomie – en of dit maar nie net weer baantjies vir boeties gaan wees nie. In kort: gaan ons fondasies bou wat hou of gaan die geld verspil word op vriende met (politieke) voordele?
Godongwana se dokument onderstreep ook die behoefte aan sosiale konsensus. Dit is inderdaad nodig. Die meesterbouer moet die inkoop van die eienaar, argitek, werkers, en kontrakteurs hê indien hy ‘n suksesvolle huis wil aflewer. Dit is waar Mboweni se bloudruk in die hek geduik het; sý huis, so goed soos dit was, was niks meer as ‘n mooi argitekstekening om voornemende beleggers opgewonde te maak nie. Die nuwe plan is minder glansbladbemarkingsmateriaal en meer oopgerolde, vuilgevatte argiteksplanne. Ons staan nou op die bou-site.
Maar nou kom die moeilike deel. Want om aan Huis Suid-Afrika te begin bou moet ons eers ‘n hele hoop bourommel verwyder. Om groenenergie op te wek, soos die dokument voorstel, moet ons Eskom se monopolie op kragopwekking sloop. Om ons lugvaartsektor se mededingendheid te versterk, moet ons van die SAL se subsidies ontslae raak. Om ons deel van die Vierde Nywerheidsomwenteling te maak (wanneer laas het jy daardie term gehoor?), moet ons spektrum vir 5G vrystel.
En dan is daar ook die dokument se tekortkominge. Tot watter mate neem dit die behoeftes en seggenskap van plaaslike gemeenskappe in ag? Wie gaan kies watter projekte voorrang geniet? Hierdie is belangrike vrae wat binnekort aan die spits gedryf gaan word.
Maar daar is nóg ‘n onbeantwoorde vraag, een wat maklik agterweë gelaat word. Een van die dinge wat ek en Helanya laat inbou het in ons nuwe huis is ‘n gróót boekrak. Die skrynwerker het gefrons toe ons verduidelik hoe groot dit moet wees en gevra: ‘Het julle ooit soveel boeke?’ My antwoord: ‘Dis vir al die boeke wat ons nog nie het nie.’
Ek is bekommerd oor die gebrek aan boekspasie in Huis Suid-Afrika, met ander woorde, die onderinvestering in die wetenskapbegroting. Die Beniniaanse politiek wetenskaplike Leonard Wantchekon noem onlangs dat Afrika-regerings vinnig moet besef dat beleggings in wetenskap- en tegnologie-ontwikkeling nie ‘n luukse produk is wat hulle maar kan ignoreer totdat hulle ryk is nie. Wetenskap is noodsaaklik; dit is inderdaad die manier hoe ons gaan ryk word.
Godongwana se nuwe ekonomiese strategie noem nie eens die woorde ‘wetenskap’ of ‘innovasie’ nie. Dit is ‘n fout. In Mboweni se addisionele begroting is befondsing aan wetenskap en tegnologie-ontwikkeling tot op die been gesny. Dit is ‘n groot fout. Terwyl ons werskaf aan die herbou van ons ekonomie se fondasies, moet ons ook die grondwerk lê vir ‘n nuwe ekonomie, een wat Huis Suid-Afrika nie net bewoonbaar maak nie, maar wat die inwoners gaan bemagtig met die vryhede wat die wetenskap en tegnologiese innovasie – kennis – ons bied.