Hoekom sukkel die kerk so met kapitalisme?
Kyk, daar is min dinge wat ‘n dominee so kwaad maak soos die woord kapitalisme. En gooi daarby die ander vloekwoorde wat met kapitalisme geassosieer word – materialisme, globalisasie, neoliberalisme, die vrye mark – en jy het ‘n kookpot wat mens seersekerlik na die verdoemenis sal lei.
Waarvandaan hierdie weersin van die kerk teen kapitalisme? Want, volgens die kerk, vergroot hierdie ekonomiese stelsel die winste van kapitaaleienaars ten koste van die meerderheid arbeiders. Want kapitaliste beskou die natuur as ‘n kommoditiet om te verbruik tot hul eie voordeel. Want die wêreld is erg ongelyk en onregverdig: die rykes raak ryker en die armes armer. So, altans, sê die Accra Belydenis wat in 2004 deur Gereformeerde Kerke wêreldwyd onderteken is.
Die probleem met hierdie sienswyse, soos Prof Stan du Plessis van Stellenbosch Universiteit in ‘n 2010 artikel ‘How can you be a Christian and an Economist?’ verduidelik, is dat dit op ‘n wanvoorstelling van die geskiedenis gebasseer is. Hier is een voorbeeld om jou eie persepsie oor ekonomiese geskiedenis te toets: Het armoede wêreldwyd toegeneem of afgeneem oor die afgelope dekade? Wat van die afgelope 30 jaar? En die afgelope 100 of 200 jaar?
Die waarheid is so verstommend dat dit skaars geloofwaardig klink: die reële inkomste van die mediaan persoon (letterlik, daardie persoon waar daar net soveel ryker as armer mense as sy is) het in die tien jaar tussen 2003 en 2013 verdubbel. Verdubbel! In ander woorde, waar die mediaan huishouding miskien een klein motortjie kon bekostig in 2003, kon hy in 2013, net tien jaar later, twee motors besit. Maar gaan verder terug in tyd en die resultate raak selfs meer verrassend: in 1981 het meer as die helfte van die wêreld se bevolking in absolute armoede geleef; vandag is dit onder 20%. En ten spyte van die feit dat die wêreldbevolking sewe keer groter is as in 1820, is ons vandag heelwat beter af: ons leef nie net langer lewens nie, maar ons het ook meer betekenisvolle lewens. Selfs die armstes onder ons kan oombliklik byna enige inligting wat ons verlang met die druk van ‘n knoppie op ‘n goedkoop selfoon bekom. Ons het die groot siektes van vorige generasies, soos die pokke, met voorkomende inenting heeltemal uitgewis. Ons kan boeke digitaal lees. Ons hoef nie meer geweldige afstande te voet, te perd of met ‘n skip af te lê nie. En tandardse maak nie meer seer nie; as mens na ‘n doktor sou gaan twee eeue terug het jy ‘n bottel brandewyn saamgevat, een helfte vir jou en die ander vir die dokter!
En selfs die armstes het meer diskresionêre fondse wat gebruik kan word vir enigiets van selfoonspeletjies tot hoër protein-inhoud maaltye tot onderwys vir hul kinders tot bydraes vir die kerk. Ja, die kerk (en die gospelbedryf) trek voordeel uit hierdie enorme welvaartskepping; vergelyk maar net die magdom (Afrikaanse) leesstof en musiek beskikbaar in Lux Verbi vandag teenoor die verskeidenheid 50 jaar gelede.
Wat is die oorsaak van hierdie vooruitgang? Die maklike antwoord is innovasie, of te wel nuwe tegnologieë wat mense meer produktief maak. En waar kom innovasie vandaan? Dis moeiliker om te antwoord, maar in breë: ‘n Stel reëls en wette, formeel en informeel, wat dit moontlik maak vir mense om handel te kan dryf, te innoveer en voordeel uit daardie innovasies te trek. In ander woorde: kapitalisme. Die enorme spoed wat die wêreld die afgelope drie dekades geglobaliseer het, danksy nuwe innovasies soos die rekenaar en die houerskip, het selfs die inwoners van die armste lande, van Botswana (die tweede armste land in die wêreld met onafhankliheid in 1966) tot Vietnam (verwoes deur oorlog in die 1970s), toegelaat om welvaart te skep.
Wat my terugbring na my oorspronklike punt: waarom kap die kerk so teen kapitalisme? Daar is natuurlik ‘n lang weersin teen selfverryking: ‘n kameel sal makliker deur ‘n naald se oog gaan as ‘n ryk man na die Koninkryk. Maar selfs voor Matteus, het die Griekse filosoof Aristotle onderskei tussen oeconomika, die bestuur van die huishouding, en chrematistike, die koop en verkoop vir ‘n wins. Die eerste is goed, die tweede, sleg.
En só het dit gebly, van Thomas van Aquinhas tot Pous Francis, wat hierdie week in sy encyclical oor die natuur gewaarsku het dat koolstofkrediete sal lei tot die “ondersteuning van die superverbruik van sekere lande en sektore”.
Met alle respek, Pous Francis, maar as die mark dan so suksesvol was (en is) om armoede op te los, hoekom gebruik ons dit nie ook om die omgewingsprobleme wat die wêreld teister te help aanspreek nie? ‘n Aanmaning (selfs een van die Pous) het nog nooit mense of besighede se gedrag verander nie; insentiewe doen wel. As mens wil hê mense moet minder van ‘n sekere produk koop (sigarette is ‘n goeie voorbeeld), maak daardie produkte duurder. Hierdie is ook die rede waarom Koop Suid-Afrika veldtogte nie werk nie, en waarom ‘n prys op plastieksakke by supermarkte wel gevind is om verbruik daarvan te laat afneem.
Natuurlik is die vryemark nie perfek nie. Die staat het ‘n belangrike rol as wetgewer, reguleerder en as verskaffer van dienste waar markoplossings nie voldoende is nie. Maar die staat maak ook foute – groot foute – en die uitdaging is om die regte balans te vind. Swede het net een drankwinkelgroep wat streng deur die staat gereguleer word, maar byna enigiemand kan ‘n privaatskool begin. Somtyds wérk mededinging; ander kere wil mens dit beperk.
Die kerk kan meer positief wees oor kapitalisme: daar was nog nooit so baie Christene in die wêreld soos vandag nie. En die rede hiervoor is nie net die kerksending nie, maar die vermoë van ‘n vrye mark om mense toe te laat om hul ekstra tyd en ekstra geld te gebruik om dinge te doen wat hulle belangrik ag of waarvan hulle hou. Vergelyk, byvoorbeeld, die twee Koreas. Vyftigjaar gelede was beide lande brandarm en ongelowig, maar toe ontdek Suid-Korea kapitalisme sowel as die kerk. Vandag is ‘n Suid-Koreaan byna 20 keer ryker as sy Noord-Koreaanse eweknie.
Was dit die kerk of kapitalisme wat die verskil gemaak het? Wie sal weet? Maar sonder kapitalisme, vermoed ek, sou die kerk baie minder siele in Suid-Korea kon wen.
*Photo by Andrew Seaman on Unsplash.