Hoekom ons maar die rektor se salaris kan verdubbel
Rektore by Suid-Afrika se top universiteite is weer in die spervuur, dié keer omdat hulle oënskynlik te veel verdien. ‘n Paar, soos Stellenbosch Universiteit se rektor, verdien meer as R4 miljoen. Dit is ‘n stewige salaris. En gegewe die groot behoefte aan studentebeurse en ander belangrike navorsingsprioriteite, kan dit voorkom asof rektore (en die universiteitsrade wat oor hul besoldiging besluit) ongevoelig is vir die behoeftes van die breër samelewing.
Klagtes oor hoë salarisse is natuurlik niks nuut nie. Elke paar maande, as maatskappye hul state bekendmaak, is ‘n paar joernaliste gegrief oor die geweldige salarisse en bonusse wat aan hoof uitvoerende beamptes (HUBs) en hul makkers betaal word. ‘n Paar artikels verskyn dan in dagblaaie wat die euwels van korporatiewe gulsigheid en ongebreidelde kapitalisme beklae. Volgens PwC se Uitvoerende Direkteure-verslag, wat in Julie bekendgestel is, het die top 10 HUBs in Suid-Afrika in 2017 ‘n gemiddelde salaris van R24.6 miljoen verdien. Die median salarispakket van ‘n HUB vir die 342 maatskappye op die Johannesburgse effektebeurs was R5.2 miljoen.
Universiteite is gróót sake-ondernemings; Stellenbosch Universiteit (SU) se 2017 inkomste is bo die R5.8 miljard kerf. As SU op die JSE gelys sou word, sou dit een van die top 100 grootste maatskappye wees. PwC rapporteer die verwagte basissalaris vir die HUB van hierdie tipe maatskappye: tussen R5.7 en R7.4 miljoen. In ‘n afsonderlike verslag, rapporteer Deloitte die totale inkomstepakket van die HUB vir die mediaanfirma in hierdie kategorie as R12.1 miljoen. As ‘n rektor dus R4 miljoen verdien, sou hy maklik kon argumenteer dat sy salaris ten minste moes verdubbel. Ditto vir sy vise-rektore en hoof finansiële beampte.
Daarby saam is ‘n rektor se taak waarskynlik dubbel so moeilik as die HUB by ‘n gewone maatskappy. Dit is omdat daar net een ding is wat tel in die privaatsektor: wins. Dit is die enigste maatstaf waarteen prestasie gemeet word; indien wins toeneem klop almal die HUB op die skouer. Maar wat is die prestasiemaatstaf vir ‘n universiteitsrektor? Is dit die hoeveelheid studente wat inskryf vir ‘n graad, die hoeveelheid wat uit laer inkomstegroepe afkomstig is, of hul deurvloeikoerse wat saak maak? Is dit die hoeveelheid publikasies van die personeel, of die impak van die publikasies? Of is dit om die alumni, die donateurs, die staat, studenteleiers, of die gemeenskap wat woon in dieselfde dorp of streek gelukkig te hou?
Daar is nog ‘n verskil tussen die privaatsektor en die akademie: formele opleiding. Van die beste HUBs by van die grootste maatskappye het op die heel laagste rang begin – as rakpakker, byvoorbeeld – en hulself opgewerk. Hulle was hardwerkend en dinamies genoeg om uiteindelik hul pad tot bo oop te veg. ‘n Rektor se loopbaantrajek is beduidend anders. Eers moet hulle volledige akademiese opleiding voltooi, wat ten minste tien jaar se studies insluit. Daarna moet jy jouself vestig in ‘n veld, navorsing doen en publiseer in akademiese joernale, en, waarskynlik na nog tien jaar, tot professor bevorder word. Eers dan kan jy die paadjie begin stap na rektor, as departementshoof, dekaan, vise-rektor en, uiteindelik, rektor. Meeste van hierdie posbeskrywings het maar karige salarisse in vergelyking met die privaatsektor. Die gemiddelde Amerikaanse gastroenteroloog verdien, volgens die Medscape Gastroenteroloog Vergoedingsverslag van 2016, $380 000 (R5.5 miljoen). As een van die mees toonaangewende akademici in hierdie veld, sou Stellenbosch se rektor waarskynlik nader aan R10 miljoen as spesialis kon verdien as hy in Amerika aangebly het. Dieselfde geld waarskynlik vir die ingenieurs, wetenskaplikes en ekonome in sy bestuurspan.
Die punt is dit: wanneer ons moet besluit of ‘n salaris te groot of klein is, moet ons die geleentheidskoste van die persoon se tyd in ag neem. Natuurlik klink R4 miljoen na baie geld vir my en vir meeste van Rapport se lesers, want ons alternatiewe inkomstebronne is beslis nie R4 miljoen nie. Maar vir universiteite om die beste bestuurslui (met ‘n akademiese agtergrond) te lok, wat fondse en risikos van etlike miljarde rande moet bestuur, moet hulle mededingende salarispakkette kan aanbied. Die alternatief is dat onervare en onbekwaamde bestuurslui aangestel word, wat ‘n baie groter koste vir die universiteit en samelewing sal wees.
This was first published in Rapport (in Afrikaans) on 18 November. Photo by Joshua Hoehne on Unsplash.