Hoekom emigrasie nie noodwendig sleg vir die ekonomie is nie
Ek vlieg verlede week Kanada toe vir ‘n konferensie. Langs my op die vlug tussen Dubai en Toronto sit ‘n man my ouderdom, en ons raak aan die gesels. Hy is ‘n sagteware-ingenieur van Mumbai, Indië, maar het ‘n paar jaar gelede besluit om, op soek na ‘n hoër inkomste, na Kanada te emigreer. Hy gaan besoek egter steeds sy ouers ten minste een keer ‘n jaar in Indië, vertel hy, en hy ploeg ‘n groot deel van sy spaargeld terug in sy tuisdorp in.
Nadat ek my hotel gevind het in Toronto, gaan soek ek aandete. Langs my by die restaurant sit twee mans, beide van Suid-Asiese afkoms. Die een se aksent is Kanadees, die ander het ‘n sterk Bangladeshi aksent. Daar is min mense in die restaurant, en ek volg maklik hulle gesprek. Hulle praat besigheid: die Kanadees benodig goeie sagtewarekodeerders, die ander spog met sy wye netwerk van kodeerders in Bangladesh, en hoe goedkoop hulle is. Teen hul vierdie bier, vind hulle ‘n prys waarmee altwee saamstem.
Die droewige Suid-Afrikaanse ekonomie, misdaad, en radikale politieke retoriek maak baie Suid-Afrikaners angstig. Emigrasie-agentskappe rapporteer ‘n toename in die hoeveelheid Suid-Afrikaners wat na alternatiewe geleenthede in die buiteland soek: meestal na Statebondlande soos Australië, Engeland, Kanada of New Zeeland waar die taal en kultuur redelik bekend is. My vermoede is dat dit veral waar is vir Engelssprekende Suid-Afrikaners met Britse paspoorte. ‘n Uitnemende wit Engelssprekende student se woorde vroeër vanjaar in ‘n persoonlike gesprek oor haar toekoms het my diep getref: Sy en haar vriende praat nie oor óf hul gaan emigreer nie, maar wánneer hulle gaan emigreer. Ek besluit toe om in my Ekonomie-eerstejaarsklas van ongeveer 200 Afrikaanssprekende studente ‘n steekproef te doen: hoeveel van hulle gaan dadelik na hul studies die pad vat en nooit weer terugkom nie? Die antwoord van hierdie (hoogs onwetenskaplike) steekproef: 20%. Een uit vyf van die studente vir wie ons belastinggeld tweederdes van hul studiekostes betaal, gaan tjaila sodra hul klaar is.
Vir baie skets hierdie dalk ‘n donker prentjie van Suid-Afrika se toekoms. In ‘n land waar vaardighede so skaars is soos ‘n Bulls-oorwinning, het ons opgeleide jongmense bitter nodig. Meer nog, ons het jongmense nodig met vindingrykheid om nuwe besighede te begin en in die proses werk te skep. Sonder ‘n ekonomie wat werk skep gaan die euwels van armoede, misdaad en populistiese politieke sentiment nie aangespreek word nie.
Maar miskien is nie alle emigrasie sleg nie. Ja, ons verloor belastingbetalers en vaardighede, maar baie Suid-Afrikaners wat oorsee vestig behou steeds sterk verbintenisse met familie en vriende. Baie van my eie portuurgroep wat oorsee gaan vestig het, het na ‘n paar jaar teruggekeer: nou met minder skuld, ‘n bietjie kapitaal en nuwe idees om hier te belê. Selfs die wat nie terugkeer nie, belê in nuwe sakegeleenthede in hul tuisland, miskien saam met familie en vriende wat agtergebly het. Die geleenthede in Suid-Afrika is steeds legio vir die slim belegger, en hierdie geleenthede word bespreek om braaivleisvure in London, Perth, Auckland en Vancouver.
Navorsingsnetwerke, beide in die universiteitssektor en die private sektor, trek ook voordeel uit die sterker buitelandse konneksies. Baie van my eie navorsingsprojekte is saam met Suid-Afrikaners in die buiteland. En Suid-Afrikaners wat vir jare lank in die buiteland gewoon het en dan besluit om terug te keer, is ‘n adrenalieninspuiting van nuwe idees, doenwyses en kontakte vir ons universiteite.
Nuwe navorsing toon ook dat emigrasie nie noodwendig sleg is vir ‘n ekonomie nie. Drie ekonome van Munich, Duitsland het onlangs ‘n artikel geskryf wat die effek van hoë-geskoolde migrasie op innovasie in 30 Europese lande ondersoek. Hul resultaat? Hoër emigrasie – byvoorbeeld van Roemenië na Nederland – lei tot méér patentregistrasies in die oorsprongland – in hierdie geval, Roemenië. “Die mobiliteit van hoë-geskoolde werkers vergroot navorsings- en ontwikkelingsnetwerke en bevorder die oordrag van kennis.”
Miljoene hoë-geskoolde Indiërs het die afgelope drie dekades na Amerika, Kanada en Europa migreer. Maar dit het nie Indië se ekonomie gekeer om teen ‘n geweldige tempo te groei nie: die gemiddelde Indiër is vandag byna vier keer ryker as in 1990. Baie van die beleggings in hierdie tyd is van Indiërs in die buiteland wat die geleenthede vir groei in hul tuisland raakgesien het, en hulle nuutgevonde kennis, kapitaal en kreatiwiteit teruggeploeg het.
En net soos my twee Bangladeshi restaurantvriende in Toronto, gaan oorsese netwerke die sleutel tot Suid-Afrika se entrepreneuriese sukses wees. Hier is my voorspelling: Die suksesvolste Suid-Afrikaanse firmas van die toekoms, gaan almal konneksies hê met Suid-Afrikaners in die buiteland.
*Photo by Philip Myrtorp on Unsplash.