Hoe om jou skottelgoed te laat ophoop
Daar is steeds groot verskille tussen mans en vroue in ons samelewing. Vroue se inkomstes is telkens minder as dié van mans wat dieselfde werk verrig. Daar is ook gereeld die verwagting dat vroue meer huiswerk moet verrig, en dat die vrou ‘n groter rol moet speel in die versorging van kinders.
Daar is baie navorsing wat gedoen word om die redes vir hierdie persepsies teenoor genderrolle te verstaan. Dis interessant om te let dat hierdie persepsies nogal baie verskil tussen lande, en daarom het meeste navorsers op hedendaagse faktore, soos die algemene vlak van ontwikkeling in ‘n land, of toegang tot onderwys vir vroue, of verskille in fertiliteitskoerse, of die groei van die dienste-sektor, gefokus.
Maar ons gesindheid teenoor genderrolle het ‘n baie dieper oorsprong. In ‘Gender: An Historical Perspective’ skryf Paolo Giuliano dat daar sewe diepliggende redes is hoekom baie samelewings steeds glo mans moet gras sny terwyl vroue moet skottelgoed was.
Die eerste rede het te doen met die ontwikkeling van die ploeg. Dit werk so: vir millennia het mans en vroue saam met sekels en ander handgereedskap arbeidsintensief op klein lappies grond geboer. Die uitvinding van die ploeg het egter die dinamiek verander. Die ploeg is meer kapitaal-intensief (jy’t ‘n os nodig) en vereis ook meer fisiese krag in korter sarsies (om die os te beheer). Ploeg-boerdery is ook minder versoenbaar met kindersorg. Die rol van mans en vroue het dus in areas waar die ploeg uitgevind is, verander. Mans het gespesialiseer op boerdery (natuurlik met groter surplusse as toe hulle met net sekels geboer het) en vroue het in die huis begin spesialiseer (op kosmaak en kinders grootmaak). Dit is, volgens Giuliano, in hierdie samelewings waar die norm gevestig is dat vroue se plek in die huis is.
Dis die teorie, maar was dit in praktyk ook so? Deur gebruik te maak van ‘n verskeidenheid innoverende datastelle, toon Giuliano en twee kollegas dat samelewings wat in pre-industrieële tye met ploeë geboer het, vandag steeds laer arbeidsmagdeelnamekoerse onder vroue het. Vroue in hierdie samelewings is ook minder geneig om hulle eie firmas te besit, of om aan die politiek deel te neem. Die rede is dat hierdie aanvanklike norme behoue bly in samelewings deur die beleide, wette en institusies wat gevestig word. ‘n Samelewing wat glo dat mans en vroue verskillende rolle het, sal byvoorbeeld ongelyke eiendomsreg en stemreg instel om mans se ‘dominante’ posisie te beskerm.
Geografie is nog ‘n rede waarom daar vandag verskillende genderrolpersepsies kan wees. Het jy al ooit gewonder hoekom Indiërs ‘n dowry-stelsel het, waar die bruid se ouers ‘n bruidsprys betaal, terwyl die lobola-stelsel in baie Afrika-kulture gevestig is, ‘n stelsel waar die bruidegom ‘n som aan die bruid se familie betaal? Dit is weens diep historiese verskille in die grond-arbeid ratio. In Indië is arbeid volop maar grond skaars. Daarom is grond die belangrike faktor: ouers sal dus betaal sodat hulle dogter met ‘n man met ‘n groot plaas kan trou. In Afrika is arbeid skaars relatief tot grondgebied. Daarom sal net die ryk mans ‘n vrou (wat ‘n bron van arbeid is) kan bekostig. Dit verduidelik ook hoekom poligamie so wydverspreid in Afrika voorkom.
Europeërs het natuurlik, net soos die Indiërs, ook ‘n lae grond-arbeid ratio, met die gevolg dat die bruid se ouers tipies in Europa vir die troue betaal. Europeërs het lank gelede hierdie gebruike na Suid-Afrika gebring en meeste Afrikaners volg dit steeds na, ten spyte van die feit dat die grond-arbeid ratio hier anders is as in Europa.
Hoekom duur hierdie normes voort, terwyl so min van ons boer, en grond al hoe minder belangrik word? Weereens het die geskiedenis ‘n antwoord: in nog ‘n artikel skryf Giuliano dit toe aan die klimaat waarin ons voorouers geleef het. Indien ons voorouers se klimaat gereeld verander het, is ons ook vandag geneig om ons norme makliker aan te pas. Maar indien ons voorouers se klimaat baie stabiel was, dan is tradisies gevestig wat baie moeilik verander. (Meer en meer navorsing wys dat mense wat sterk in tradisie glo selde daarvan afwyk, al is dit tot hulle nadeel.)
Wat ons glo en wat ons doen is gereeld die produk van ons verlede, selfs sonder dat ons dit besef. Ons norme en persepsies oor mans en vroue se ‘rolle’ in die samelewing het ‘n oorsprong diep in ons geskiedenis.
Maar ‘n woord van advies uit my huwelilk: ‘die geskiedenis sê so’ is nooit ‘n goeie argument om skottelgoeddiensplig te vermy nie. Al wat gebeur is dat die skottelgoed verder ophoop.
*Photo by Scott Umstattd on Unsplash.