Herverdeling neem ons oog van die bal
Herverdeling is weer aan die bokant van die beleidsagenda. Ongelukkigheid met die stadige pas van vooruitgang vir veral arm en middelklas Suid-Afrikaners beteken dat mense na al meer radikale antwoorde soek. Dit voer populisme.
Die ‘vyand’ dra deesdae die naam ‘wit monopolie kapitaal’, ’n gesiglose sondebok wat net soos Don Quixote se windmeule bestorm moet word. En die plan om dit te doen? ‘Radikale ekonomiese transformasie’ kondig die president in sy staatsrede aan.
Maar wat beteken dit? Daar word baie praatjies gemaak – soos altyd, wil mens byvoeg – maar min beleidsontwerpe ter tafel gelê. Die herverdeling van grond sonder vergoeding is ’n gewilde opsie, maar dit sal vereis dat die Grondwet gewysig word, iets wat nie maklik gebeur nie. Selfs ’n welvaartbelasting wat onlangs nog op die tafel was weens die Fransman Thomas Piketty se werk, is nou blykbaar iets van die verlede.
En dan is daar die staatskas wat kan herverdeel, met Pravin Gordhan aan die stuur, wat deesdae self deur die Zuma-faksie beskuldig word as in die bed met ‘wit monopolie kapitaal’. Dit, ten spyte daarvan dat Gordhan die woord ‘transformasie’ 54 keer in die begrotingstoespraak genoem het.
Het die aanklaers van ‘wit monopolie kapitaal’ al vir hulself afgevra wat die oorsprong van welvaart is? ’n Vinnige geskiedenisles sal leer dat ‘innovasie’ die belangrikste bousteen van enige ekonomie en firma is. Dink maar aan die rykste lande van ons tyd: dit was nie herverdeling wat sukses verseker het nie, maar beleggings in innovasie. En dink aan die Suid-Afrikaanse firmas wat onlangs sukses behaal het: Capitec in bankwese, Curro in onderwys en Naspers met hul Tencent aandeelhouding is almal firmas wat in tegnologie belê. Hoe ironies nie dat Gordhan die woord ‘innovasie’ net een keer in die begrotingstoespraak genoem het, en ‘tegnologie’ vier keer.
Die tragiese is dat hierdie fokus op herverderling baie min vir die armstes gaan doen. ‘n Vinnige syferoefening sal help: indien ons al 38500 dollar-miljoenêrs in Suid-Afrika (volgens New World Wealth) se welvaart onteien (in die hipotetiese geval waar dit kon gebeur sonder dat die waarde daarvan daal) en dit gelyk tussen alle Suid-Afrikaners verdeel, sou elke Suid-Afrikaner R38 282 kry. Eenmalig. Een jaar se studies vir ’n BCom-graad by ’n goeie universiteit is duurder as dit. Die Gini-koeffisiënt sal tuimel, ja, maar wat het ons bereik? Selfs al sou ons die onglobare aanname maak dit almal hierdie bedrag sou investeer en die rente daarop 10% per jaar wees, sou dit steeds maar net ons inkomstes lig met R319 per maand. Hierdie tipe herverdeling gaan ons nie ryk maak nie.
Dieselfde geld vir grond. Behalwe die feit dat baie grond tans onproduktief lê, sal grondonteiening vir min tot voordeel wees. Dink só daaraan: selfs al word al 36 000 kommersiële boere se grond onteien (en selfs aanvaar ons dat elke plaas se produktwiteit dieselfde sal bly om hul huidige werkers te kan bekostig), en elke eienaar se grond word toegeken aan 10 huisgesinne, gaan dit vir slegs 6% van huidige werkloses werk verskaf. Herverdeling skep nie rykdom nie.
Daar is natuurlik ’n herverdelingstorie wat vertel móét word, maar wat mens selde tussen die populistiese slagspreuke hoor: die geweldige herverdeling wat elke jaar deur die fiskus plaasvind. Hier is die feite uit Minister Gordhan se mond: die armste 50% Suid-Afrikaners betaal 4% van belasting, maar kry 59% van sosiale spandering. Die rykste 10% van Suid-Afrikaners betaal 72% van belastinginkomste, maar ontvang net 6% van sosiale toelae. ’n Groep Wêreldbanknavorsers het onlangs gevind dat die Gini-koeffisiënt van 0.77 na 0.59 afneem weens hierdie herverdeling, die grootste herverdeling deur enige staatskas wêreldwyd.
Die fokus op herverdeling neem ons weg van die ding wat welvaart skep: groei. Minister Gordhan weet dit ook: ‘Transformasie sonder groei is onvolhoubaar’ sê hy prontuit in sy toespraak. Hy weet ook, vermoed ek, wat nodig is om dit te bewerkstellig, maar sy hande word deur politieke werklikhede vasgebind. Hy weet dat die onderwysstelsel ’n gemors is. Hy ken die korrupsie wat sy geallokeerde geld opslurp. Hy weet van die planne om nog meer daarvan onder die vaandel van ‘radikale transformasie’ na ’n klein elite te kanaliseer.
Herverdeling, deur die staatskas, is reeds die maksimum wat dit kan wees sonder om die volhoubaarheid van die staatsfinansies te bedreig. Pleks van saamsing aan die herverdelingsnarratief, sal dit Minister Gordhan help om eerder die fokus te verskuif na waaroor dit eintlik gaan: voorspoed deur innovasie.
Herverdeling is ’n gewilde narratief omdat die ekonomie tans nie groei nie, en omdat dit makliker is om ’n sondebok te probeer vind in ’n gesiglose vyand as om die werklike een te konfronteer.
Maar dit doen ongelukkig niks om ons nader aan ’n welvarende samelewing te neem waarna ons almal eintlik streef: een waar daar gelyke geleenthede is vir almal om, deur kreatiwiteit, ’n tikke geluk en baie harde werk, bó uit te kom.
*Photo by Simon Hurry on Unsplash.