Goeie intensies is nie goed genoeg nie
Ry vanaf Stellenbosch deur die pragtige dorpie Pniel, draai dan regs by die t-aansluiting op die R45 in die rigting van Franschhoek, en draai dan links, so ‘n kilo of wat later, vir ‘n les in die tekortkominge van goeie intensies. Hier, by die sameloop van die Bergrivier en Dwarsrivier in een van die mooiste valleie in die wêreld, is Solms-Delta, ‘n wynlandgoed wat plaaslik en internasionaal as ‘n suksesmodel vir transformasie- en opheffingswerk voorgehou word. En Mark Solms is die held van dié verhaal, ‘n psigoanalis en psigoloog van die Universiteit Kaapstad wat met die aankoop van die Zandvliet-Delta in 2001 dié vrugteplaas nie net in ‘n wynplaas transformeer het nie, maar ook, só word wyd (en ook steeds vir toeriste in die plaaslike museum) verkondig, gehelp om die plaaswerkers op te hef, ‘n stem te gee, en ‘n hoër lewensstandaard en blinker toekoms te verseker.
Dit, altans, totdat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming onlangs aangekondig het dat hulle nie meer die projek finansieël gaan ondersteun nie. Sien, Solms-Delta maak al sedert 2016 staat op dié Department, nadat Mark Solms 45% van die grond deur ‘n grondhervormingsooreenkoms aan sy plaaswerkers verkoop het. Sedertdien pomp die staat maar elke jaar ‘n paar miljoen in die plaas, wat teen ‘n verlies bedryf word. ‘n Paar weke terug het die Departement finaal besluit dat dit beter is om die plaas te likwideer en onder nuwe bestuur te plaas. Redes vir die powere finansiële resultate is klaarblyklik swak plaaslike en internasionale wynverkope en wanbestuur in die gasvryheidsbedryf. Solms is nou sy plaas kwyt.
Solms-Delta is ‘n uitmuntende voorbeeld van goeie intensies wat skipbreuk lei op die rotse van realiteit. Solms erken self dat hy min geweet het van wynmaak toe hy die plaas gekoop het. In ‘n artikel in die Suid-Afrikaanse Historiese Joernaal van 2017 skryf Julia Wells, medeprofessor in Geskiedenis by Rhodes Universiteit, dat die besit en bestuur van ‘n wynplaas Solms darem sou toelaat om ‘een wynplaas te genees’. Solms vertel in dié skrywe dat sy plaaswerkers dadelik kon sien dat hy ‘obviously a fool’ was, en dat dit hom gedwing het om soos ‘n ‘old-school farmer’ te wees wat ‘altyd kwaad vir die werkers’ was. Dit het hom genoop om dinge te verander. Hy het, so lui Wells se vertelling, toe sy ervaring as psigoanalis gebruik om die werkers aan te moedig om hulle stories te vertel. Hy het met ‘n argeologiese opgrawingsprojek begin om die San-geskiedenis van die plaas te karteer. Hy het ‘n musiekmuseum – Music van de Caab – opgerig, asook ‘n inspirerende en noukeurig-nagevorste slawemuseum. Meeste hiervan, asook die verbeterings aan werkershuise, is met donateursfondse gebou. Die plaas, met Mark Solms aan die spits, was ‘n toonbeeld van transformasie.
Dít is ook hoe Wells die storie vertel – wat ook maar wys dat historici versigtig moet wees om te vinnig die geskiedenis te wil opskryf. Wat sy, en baie ander van Solms se pryssangers, swyg om te sien, is dat hierdie model van opheffing eenvoudig nie volhoubaar is nie, soos die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se onlangse besluit demonstreer. As die volhoubare opheffing van plaaswerkers so maklik was, deur bloot eienaarskap oor te dra, sou almal dit gedoen het. Maar goeie intensies bou nie ‘n plaas nie, veral nie ‘n suksesvolle een nie. As ‘n slim ou soos Mark Solms dit nie kan regkry nie, met diep sakke, enorme welwillendheid en ‘n wye sakenetwerk, hoe moeilik moet dit nie vir die gemiddelde boer wees nie?
‘n Boerdery, net soos enige sakebedryf, se eerste prioriteit moet wees om ‘n wins te maak. Só betaal jy jou eie en jou werkers se salarisse. Die wins belê jy in kapitaal om jou produk vinniger, of goedkoper, of van hoër gehalte te maak. Só maak jy jou werkers meer produktief, wat ook beteken dat hulle salarisse toeneem. Dít is volhoubare opheffing, gebasseer op gesonde sakebeginsels, nie aalmoese wat enige dag kan opdroog nie. En boonop dra jy by tot die staatskas, eerder as om daaruit te skep.
Natuurlik kan wynplase ander bronne van inkomste hê, soos baie ander Bolandse wynplase doen. En natuurlik is daar ‘n verpligting van eienaars om ook na die welstand van hulle werkers om te sien. Gesonde, gelukkige en geskoolde werkers is immers produktiewe werkers. Maar ‘n werkgewer wat sy oog van die winsmotief haal, al het hy die beste intensies, staar nie net likwidasie in die gesig nie, maar stel ook sy werkers se heenkome in gedrang. Vra maar net vir Solms-Delta se mense, wat nou ‘n onseker toekoms ingaan.
*An edited version of this was first published in Rapport on 14 June. Photo by Tiaan van Zyl on Unsplash.