Eerstejaars: nuwe idees is die dumbbells vir jou brein
Soos meeste mense, is my nuwejaarsvoorneme ook om vanjaar bietjie meer in die gym uit te kom. Dis tog belangrik om na mens se gesondheid om te sien, en ‘n paar besoeke elke week sal net die ding wees om die vakansievetjies af te skud. Kyk, ek het nog nooit van die plek gehou nie. ‘n Gym herinner my aan ‘n casino: almal stap in met hêmelshoë verwagtinge, en stap uit met ‘n ek-het-geweet-dis-te-goed-om-waar-te-wees teleurstelling.
Maar sommige onder ons kry dit wel reg om hul lywe te transformeer. Gewig af te skud. Spiere te bou. Fiks te word. Dit verg dissipline, harde werk, en om voortdurend jouself uit te daag met hoër teikens. Mens bench-press nie dieselfde na ‘n jaar se oefen nie. Jy begin laag, en soos jy die gewig baasraak, sit jy ‘n paar gewiggies by. Só bou jy krag, word jy sterker.
En dis my wens vir vanjaar se eerstejaarsstudente: om die universiteit nie as ‘n vakansieoord te sien nie, ‘n plek waar mens gaan om vermaak te word nie, maar om dit te sien as ‘n kognitiewe gimnasium, waar jy uitgedaag word om jou denke te ontwikkel.
Dit is nog altyd wat universiteite was, maar vir sommiges is dit nie meer die geval nie. Veral die laaste paar jaar sien ek en my kollegas al meer ‘n verandering in studente se gedrag: waar die lekkerste klasse altyd was om studente uit te daag met ongemaklik en selfs kontroversiële idees, moet mens deesdae in jou spore trap om studente nie te ‘ontstel’ met moeilike sienswyses nie. Meeste dosente wat ek ken is deesdae erg versigtig vir wat hulle in die klas sê.
Dis nie net waar vir Suid-Afrika nie. In ‘n wonderlike nuwe boek – The Coddling of the American Mind, wat ek verpligte leesstof vir elke eerstejaar sou wou maak – skryf Jonathan Haidt en Greg Lukianoff dat Amerikaanse universiteite vakansieoorde (of dalk eerder: veilige hawes) geword het, eerder as plekke waar idees uitgedaag word. Hulle noem drie waarhede wat deesdae, weens ‘n verskeie reeks faktore, aangehang word: 1. Wat jou nie dood maak nie, maar jou swakker. 2. Vertrou altyd jou emosies. 3. Jys of vir ons of teen ons.
Alreeds op ‘n vroeë ouderdom word hierdie waarhede by kinders gekweek. Baie skole verbied deesdae grondbootjies omdat daar enkele kinders allergies daarvoor is. Maar navorsing wys dat dit juis die afwesigheid van grondboondjies op ‘n vroeë ouderdom is wat tot allergieë aanleiding gee. Dieselfde met ander kieme. Ouers probeer kinders in watte toedraai, soos waarheid 1 lui, maar dit maak hulle broos. As hulle op universiteit arriveer en word met nuwe idees konfronteer, wil hulle weer ‘beskerm’ word, net soos hulle teen allergieë beskerm is.
Die tweede wet – vertrou altyd jou emosies – het net sulke slegte gevolge. Orals word jongmense aangeraai om hul gevoelens te vertrou; maar gedragsekonome en sielkundiges weet baie goed dat mense se emosies selde ‘reg’ is. Ons het baie vooroordele waarvan ons heeltemal onbewus is. Maar hoe meer ons vir ons kinders vertel om hul gevoelens te vertrou, hoe meer vind die universiteitsklaskamer onstellend. ‘n Goeie klas is nie ‘n plek waar jy moet lekker ‘voel’ nie; dis ‘n plek waar jy moet uitstap en dink hoekom jy nie met die dosent saamstem nie. Slegs dan het die professor haar werk gedoen. Baie studente vandag wil egter beskerm word teen hierdie slegte gevoelens.
Die derde wet – jy’s óf vir ons óf teen ons – maak debat byna onmoontlik. Argumente het altyd grys areas; dis selde dat ‘n ding suiwer swart of wit is. Maar weens die polisering van die samelewing, aangevuur deur sosiale media, verloor ons hierdie nuanses. Studente aan beide kante van die spektrum raak al hoe meer ekstreem, en wil ‘die ander kant’ ‘n spreekbeurt ontmeem. Dit lei selde tot intellektuele debat wat die wetenskap bevorder, en die kernmerk van ‘n leersame omgewing is.
Die outeurs skryf dat studente ‘n anti-broosheid moet ontwikkel; dat hulle moet besef dat hoe meer hulle hulself gaan toelaat om uitgedaag te word deur vreemde idees, hoe beter gaan hulle in die lewe ná universiteit aanpas. Dis baie waar. Jy wil nie ‘n marathon gaan hardloop nadat jy vir ‘n paar maande net cocktails op ‘n vakansieoord gedrink het nie. Gaan eerder gym toe; nuwe idees is inderdaad die dumbbells vir jou brein.