Die vele probleme van mans
MEYERTON, HENLEY ON KLIP - JANUARY 14: Oprah Winfrey poses with the Graduates on her arrival at the inaugural graduation of the class of 2011 at Oprah Winfrey Leadership Academy for Girls on January 14, 2012 in Henley on Klip, South Africa. (Photo by Michelly Rall/Getty Images)
Een ding wat ekonomiese geskiedenis mens leer is dat baie van die groot veranderinge in die geskiedenis, goed wat ons tipies toeskryf aan sosiale, politieke of kulturele faktore, eintlik maar ekonomiese oorsake het.
Die Groot Trek? Miskien wou ‘n paar opportunistiese grensboere (of hul leiers) maar net wegkom van hul swaar skuldlas in die Kaap. Of miskien het hulle die geleentheid gesien om grond goedkoop te bekom wat hul dan aan die volgende groep trekkers kon verkoop, en so ‘n goeie opbrengs maak. Hulle was bitter oor die Britte, ja, maar dit was nie die enigste rede (of selfs dalk belangrikste rede) hoekom hulle getrek het nie.
Afrika kolonialisme? Was dit werklik net Europese patriargie en rassisme, soos baie van my studente nou dink, of was dit, soos ‘n nuwe artikel wys, eerder gunstige handelsterme. Dit wil blyk die Berlynse konferensie van 1884 (waar Afrika onder Europese moondhede verdeel is) het presies op die tydsgleuf plaasgevind wat Afrika se handelsruilvoet (die prys van Afrika-uitvoere oor invoere) op sy hoogtepunt was. Dit was dus ekonomies aanlok vir Europeërs – eerder as net ‘n magspel.
Die einde van apartheid? Nee, sekerlik was dit tog die werk van vryheidsbewegings? Natuurlik het dié bewegings gehelp, maar net so het die meganisering van die ekonomie ook. Die stelsel van wit bevoorregting het teen die einde van die 1970s al nie meer alle wit belange bevoordeel nie omdat werkgewers, weens ‘n groeiende dienste sektor, nie meer ongeskoolde werkers benodig het nie, maar eerder geskoolde werkers. Dit verduidelik ook die groot konflik binne wit geledere in die 1980s.
Hoe okal ons baie van hierdie gebeurtenisse wil inkleur – nasionalisme, rassisme, sekssisme – die ware rede skuil gewoonlik in ekonomiese motiewe.
Dit is steeds waar vandag. Ons leef tans deur verskeie grootskaalse en globale veranderinge. Die opkoms van populisme, byvoorbeeld, is dalk verrassend vir baie. Maar, so wys nuwe navorsing, dit het óók ‘n ekonomiese oorsprong. Populisme vind inslag waar mense voel hulle is ekonomies ontmagtig. En dit is beslis wat middelklas inwoners in ryk lande oor die afgelope drie dekades ervaar het. Baie probeer hierdie ontmagtiging toeskryf aan globalisasie, die opkoms van Asië en immigrasie (Trump hou nogal daarvan om só daaroor te dink), maar by verre die grootste sondebok is tegnologie wat blouboordjiewerke verplaas. (Natuurlik skep tegnologie baie werk ook, veral vir die mees geskoolde maar, interessant genoeg, ook vir ongeskoolde beroepe soos versorging waar menslike interaksie nie deur robotte vervang kan word nie.)
Die nuutste uitgawe van die gesaghebbende Journal of Economic Perspectives wys dis veral mans wat aan die kortste ent trek. Weens die kwyning in landbou en vervaardiging (waar mans se fisiese krag belangrik is) en die opkoms van die dienste-sektor (waar vroue meer geneig is om te gedy), raak die verskille tussen mans met universiteitsopleiding en dié daarsonder, groter. Die gevolge hiervan is egter baie groter as net ‘n laer inkomste. Dit vind neerslag in sosiale kwessies, soos misdaad en gesondheid.
Dieselfde is aan die gebeur ook in Suid-Afrika sigbaar. ‘n Man wat in 2018 gebore is gaan gemiddeld ses jaar korter leef as ‘n vrou. Mans in Suid-Afrika is vier keer meer geneig om aan selfdood te sterf as vroue. Vir elke een vrou in ‘n Suid-Afrikaanse tronk, is daar 36 mans.
Maar dis nie net mans se fisiese en psigiese welstand wat reeds sleg teen vroue s’n afsteek nie. Vroue doen byvoorbeeld ook beduidend beter as mans in die onderwysstelsel. Ek haal ‘n onlangse studie aan: ‘Ons vind onweerlegbare bewyse van ‘n groot voordeel ten gunste van vroue wat groter word by elke hekkie van die onderwyssektor. Om meer spesifiek te wees, ons vind dat – in vergelyking teenoor hul manlike eweknieë – 27% meer vroue kwalifiseer om universiteit toe te gaan, 24% meer vroue skryf in vir universiteit, 56% meer vroue voltooi ‘n kwalifikasie, en 66% meer voltooi ‘n voorgraadse graad. Dit is ten spyte van die feit dat dieselfde hoeveelheid seuns en dogters met Graad 1 begin.’ In kort: mans sukkel om akademies by vroue kers vas te hou.
Hierdie verandering gaan noodwendig gevolge hê in die arbeidsmark. Terwyl die werkloosheidskoers onder vroue steeds hoër is as dié van mans – vir persone tussen 15 en 24 jaar is die koers vir vroue 35.1% teenoor 31.4% vir mans – is dít ook besig om te verander. Verlede jaar dieselfde tyd was die koers 35.3% vir vroue en 29.6% vir mans. Vroue se werkloosheidskoers het gedaal terwyl mans s’n gestyg het.
Dit is nodig dat vroue op baie gebiede die agterstande van die verlede uitwis. En dit is reg dat genderdistriminasie ontbloot word; dit is immers die doel van Vrouemaand in Augustus. Die goeie nuus is egter dat, weens die veranderende struktuur van die ekonomie, hierdie agterstande baie vinniger uitgewis sal word as wat ons verwag. Soos hoër onderwys ‘n groter rol begin speel in welvaartskepping, gaan mans se voorheen mededingende voordeel – fisiese krag wat hul toegelaat het om ploeë en ander werktuie te hanteer – al minder waardevol wees. Genderaktiviste sal die veranderinge toeskryf aan sosiale norme wat verander, maar is dié norme nie maar net ‘n gevolg van die diepliggende ekonomiese veranderinge wat reeds vir die laaste paar dekades plaasvind nie?
Dit laat mens egter ook wonder: watter nuwe agterstande skep hierdie veranderinge vir mans, en wat gaan die sosiale, politieke en kulturele gevolge daarvan wees?
* 'n Verkorte weergawe van hierdie skrywe het op 21 Julie in Rapport verskyn.
**Image source: Getty Images.