Die rede hoekom ons nie meer vir kinders pak gee nie
Een van die stories wat my pa met genoegdoening vertel gaan oor ’n pakslae wat hy gekry as tiener. Hy en sy broer het blykbaar een middag al die verekussings in sy ouerhuis tydens ’n enorme kussinggeveg stukkend geslaan. My oupa was blykbaar so woedend dat hy hom en sy broer summier om die huis met ‘n riem gejaag het.
Ek is darem nooit om die huis gejaag nie, maar kon nie heeltemal ‘klaargepraat’ in die tweede laai ontsnap nie. Vandag het dinge selfs meer verander: meeste van my vriende met kinders kies om nie hul kinders pak te gee nie. In skole is lyfstraf taboe.
Mens sou dink hierdie veranderende strafmaatreëls het meestal met veranderende norme en waardes te doen, of selfs beter onderwys of toegang tot inligting. Die handves van menseregte het tot wetgewing gelei wat lyfstraf verbied, en tot sosiale stigma vir dié wat hul kinders pak gee in die publiek.
Een vraag is natuurlik of hierdie afname in lyfstraf kinders se gedrag verander: is kinders vandag meer dikwels stout omdat hulle nie pak kry nie? Ek is seker daar is ’n hele paar ouers wat hiermee sou wou saamstem. Dit is natuurlik handig om te onthou dat elke generasie voel asof die jonges skielik handuit ruk. In 1907 het ’n Cambridge student die griewe van ouers in Antieke Griekeland só opgesom: ‘Kinders tiraniseer hul ouers. Hulle het swak maniere, minagting vir gesag, disrespek vir ouer mense en 'n liefde vir gesels in die plek van oefening.’ Stoutwees is beslis nie ’n nuwe verskynsel nie.
Die meer interssante vraag is natuurlik hoekom lyfstraf, ’n instelling wat duisende generasies reeds bestaan, skielik in die twintigste eeu besig is om tot ’n (amperse) einde te kom. Is dit bloot veranderende norme en waardes? En indien wel, hoekom het hierdie normes en waardes skielik verander?
Drie Amerikaanse ekonome het in ’n onlangse NBER artikel met ’n antwoord vorendag gekom: volgens hul bevindinge, gaan dit alles oor die bedingingsmag van gesinslede. Basies werk dit so: oor die twintigste eeu, maar veral na die Tweede Wêreldoorlog, het vroue se toename in relatiewe inkomste tot groter mededinging tussen eggenote gelei vir die liefde en aandag van hul kinders. Vroue is nou baie meer waarskynlik om ’n voldag werk te beklee as vroeër, en daarom is die wedywering vir tyd saam met hul kinders ook groter.
Terselfdertyd het ’n daling in die grootte van gesinne mededinging tussen kinders verminder vir die bronne van hul ouers. Waar die gemiddelde fertiliteitskoers in Suid-Afrika in 1960 nog meer as 6 kinders was, is dit nou onder 2.5.
Hierdie twee tendense verduidelik, volgens die outeurs, hoekom lyfstraf besig is om te verdwyn. Weens die wedywering tussen ouers is die ‘koste’ van lyfstraf groter: as die ma pakslae gee word die pa ’n gunsteling. En omdat daar minder kinders is en ouers se inkomste aansienlik toegeneem het (deels omdat vroue meer geneig is as voorheen om ’n salaris te verdien), beskik ouers oor meer geld om in elke kind te investeer. Dit maak dit moontlik om kinders op ’n ander manier te straf as voorheen: waar ’n pakslae dalk jou voorland vir ’n onbesonne daad was, sal ouers nou eerder kies om kinders se sakgeld te weerhou, of om hul gedrag deur positiewe insentiewe, soos geskenke, te verander.
Die groter bedingingsmag van kinders kan natuurlik ander gevolge ook hê, beide goed en sleg. Daar is geen twyfel dat ’n daling in lyfstraf die fisiese en sielkundige ontwikkeling van kinders gebaat het nie, veral vir die meer weerlose kinders wat in huishoudings grootword waar geweld ’n alledaagse verskynsel is.
Maar groter bedingingsmag beteken waarskynlik ook dat kinders meer gereeld hul sin kry. En soos meeste ouers weet, wat kinders wil hê is nie noodwendig altyd wat goed is vir hulle nie. Hoe mens kinders motiveer om byvoorbeeld van die selfoon af te klim, of om minder TV-reekse te kyk, is vir baie ouers ’n uitdaging. (Dieselfde geld natuurlik vir grootmense ook.)
Wat die studie toon is hoe baie van ons gedrag eintlik maar diep ekonomiese beweegredes het. Ja, normes en waardes en wetgewing verander, maar hierdie veranderinge is baie keer die gevolg eerder as die oorsaak van ekonomiese tendense.
En dit is belangrik vir beleidsmaking: as ons regtig lyfstraf verder wil inperk, gaan strenger wetgewing waarskynlik nie help nie. Maak dit eerder makliker vir vroue om tot die arbeidsmark toe te tree (deur, byvoorbeeld, salarisse gelyk te stel, of vaderskapsverlof uit te brei). ‘Klaargepraat’ sal dan, weens die interaksie van ekonomiese faktore in die huishouding, outomaties minder gebruik word.
*Photo by Carlos Magno on Unsplash.