Die logika van borrels: Solank iets opgaan, gaan dit nie af nie.
Die ou historiese gebou was volgepak. Bieërs van regoor die land, ryk sakemanne, bekendes, boere, politici, selfs middelklas burgers met ‘n bietjie spaargeld, het lang reise onderneem vir ‘n veiling wat, volgens bespiegelings, die grootste een nog sou wees. Toe die afslaer begin met die eerste bod, was dit reeds duidelik dat rekordpryse hier behaal sou word, en namate meer seldsame variasies aangebied is, het die rekords getuimel. Kopers was oortuig dat pryse verder gaan styg; dit het immers in die vorige dekade só gegroei dat baie fortuine geskep is vir dié wat eerste ingeklim het. Veral besonderse of unieke variasies kon vir ‘n verkoper ‘n fortuin besorg. Toe die veiling verby was, was die totale waarde van verkope meer as R13 miljoen.
En dit vir blomme. Tulpe, om meer presies te wees. Sien, hierdie veiling, gehou in die klein dorpie van Alkmaar, Holland op 5 Februarie 1637, was ‘n paar dae voor die tulpeborrel gebars het. Tulpmania, soos Mike Dash in sy boek Tulipomania skryf, het Hollanders in die 1630s getref. Die eksotiese (Turkse) blom het almal van prinse en politici tot kroegeienaars en hul kliënte, aan die praat gehad. Die blomme wat die meeste aandag getrek het was dié met besonderse kleure of patrone, en elke variasie het natuurlik ‘n naam gehad: die Witte Croon, die Viceroy, die Admirael van der Eijcks, die Gevlamde Nieulant. Die duurste blom – ‘n Semper Augustus – is verkoop vir 5 hektaar grond. Een Viceroy (ja, één tulpbol) is verkoop vir twee bondels koring, vier bondels rog, vier vet osse, agt vet varke, 12 vet skape, twee vate wyn, vier groot vate bier, twee ton botter, 1000 pond kaas, ‘n bed, a pak klere en ‘n silwer drinkbeker.
Maar hoekom het Hollanders ‘n fortuin betaal vir hierdie tulpbolle? Hulle moes tog kon sien dat dit finansiële malligheid was; behalwe dat dit mooi lyk in die vensterbank, lewer ‘n tulp tog geen direkte opbrengs nie. Die hoop was natuurlik daar om nuwe bolle te kweek, maar daar was geen sekerheid dat hierdie jong bolle hul besondere patrone en variasies sou behou nie. Toe pryse teen 1636 so vinnig begin styg, het eienaars nie eens meer hul bolle geplant nie, maar dit veiling na veiling herverkoop vir ‘n al groeiende fortuin. Hoekom kon hulle dit doen? Want kopers het geglo dat pryse nog verder gaan styg.
En toe bars die borrel. Niemand het dit natuurlik sien kom nie, en navorsers is vandag nog onseker hoekom dit juis tóé plaasgevind het. ‘n Paar dae na die Alkmaar veiling het ‘n groep handelaars bymekaargekom vir ‘n veiling in Haarlem. ‘n Klompe Witte Croonen is aangebied teen 1250 guilders. Tot die verbasing van die afslaer het niemand gebie nie. Die prys is verlaag, en steeds het niemand gebie nie. Daar was ‘n doodse stilte toe mense besef wat gebeur. En toe paniek. Binne ‘n paar weke het tulppryse in Holland in duie gestort. Baie mense wat enorme bedrae vir tulpe betaal het, het nou met bolle gesit wat niemand wou koop nie. Fortuine is binne ‘n paar dae vernietig. Die ekonomie sou lank neem om te herstel.
Die Alkmaar veiling herinner mens nogal aan die wildsveiling op Piet du Toit se plaas waaroor Rapport op 15 Februarie verslag gedoen het: die ryk sakemanne, bekendes, politici (“hulle is miljoenêrs, Springbokrugbyspelers of boere”) wat van ver reis (“in bakkies en helikopters van heinde en ver gekom”) om besonderse en unieke variasies te kom koop (“Die pryse van die genetiese “fratse” wat vir hul kleurvariasies geteel word, styg elke jaar”), die spesiale name (“Tsunami” , “Bayeto”, “Nina”) wat verkoop word teen rekordpryse (“Die omset van Vrydagaand se veiling was meer as R260 miljoen.”). En die logika, mooi opgesom in Peter Billingham se opmerking: “Solank sakemanne bly belê, is die wildbedryf beslis nié ‘n borrel wat gaan bars nie.” Anders gestel: Solank iets opgaan, gaan dit nie af nie.
Dat wildpryse net so vinnig styg soos tulpe in die sewentiende eeu is duidelik. Werk wat deur navorsers in die Wes-Kaapse Departement van Landbou gedoen word bevestig dit. Die bygaande figuur toon die persentasie van rekordpryse wat elke jaar oortref word. In 2014 is dus meer as die helfte van alle maksimumpryse oortref.
Dít, ten spyte van die feit dat die seldsame bokke met die vreemde patrone en kleure wat op hierdie veilings verkoop word natuurlik net so min intrinsieke waarde bo ‘n ‘gewone’ bok het as wat die seldsame tulpe bo ‘n normale tulp gehad het. Die enigste ‘waarde’ van die genetiese fratse is dat ander kopers glo pryse gaan verder styg.
Tot een dag wanneer daardie ‘geloof’ in die niet verdwyn. Wanneer en hoe dit gebeur is moeilik om te voorspel, soos vorige borrels in die geskiedenis bewys. Maar ek kan myself dit só voorstel: ‘n Saal vol mense op ‘n wildsplaas in Limpopo. Die afslaer wat lot nommer 1 adverteer, ‘n pragbuffel met 54 duim horings. Die afslaer begin die bod by R40 miljoen. Stilte. Die afslaer wat vir ‘n oomblik huiwer, en dan begin by R30 miljoen. Stilte. R20 miljoen? Mense wat hul selfone uithaal, ‘n benoude oproep maak, en paniekerig verduidelik: ‘Dit gaan nie meer op nie, meneer, dit gaan nou af.’
Bronne:
Mike Dash. 1999. Tulipomania. Three Rivers Press.
Wes-Kaapse Departement van Landbou.
Wisselkoerssakrekenaar: http://www.iisg.nl/hpw/calculate.php
*Photo by Lanju Fotografie on Unsplash.