Die jeug se stryd vandag
Dinsdag was Jeugdag. 16 Junie herinner ons aan die jeug van 1976 wat opgestaan het teen ‘n regering wat hul van hul vryhede – om te studeer in die taal van hul voorkeur – ontneem het. Maar dit is ook ‘n dag van selfondersoek. Wat is die dinge wat die jeug van vryheid vandag, 44 jaar later, ontneem?
Dis moeilik om verby die geweldige gevolge van die staat van inperking te kyk. ʼn Paar statistieke, soos uitgelig in ʼn verslag van Stellenbosch Universiteit se Servaas van der Berg en Nic Spaull wat Dinsdag gepubliseer is, help dalk om die situasie te verduidelik. Byna 2 miljoen kinders tussen die ouderdomme van 0 en 15 bly tans sonder ‘n volwasse toesighouer by die huis. ʼn Miljoen van hierdie kinders is jonger as ses jaar oud. As skole nie vinnig heropen nie, is daar ʼn goeie kans dat die helfte van vanjaar se skooljaar verlore gaan wees. Nuwe navorsing – op ander pandemies en rampe – toon dat kinders nie weer hierdie agterstand gaan opmaak nie. Dit beteken hulle sal met ‘n swakker simbool slaag, ‘n kleiner kans hê om verder te swot, en minder verdien wanneer hulle eendag gaan werk.
Meeste kinders is ook in ‘n skool waar hulle gratis etes ontvang. Met die staat van inperking, het hierdie etes verdwyn. Reeds voor die staat van inperking was daar 2.5 miljoen kinders in Suid-Afrika wat honger was en onder die broodlyn geleef het; ten minste 1 miljoen kinders onder vyf se groei is belemmerd (stunted, in Engels). ‘n Derde van kinders wat in Suid-Afrika sterf is ondervoed, wat toon dat armoede ‘n belangrike oorsaak van kindersterftes is. Nuwe opnames deur Statistiek Suid-Afrika en die RGN toon dat dit baie erger is ná die staat van inperking: hongersnood het geweldig onder kinders toegeneem, wat ook die risiko van pneumonie, diarree en HIV/Vigs beduidend laat toeneem het. Op 13 Julie word die eerste resultate van CRAM, ʼn verteenwoordigende opname van Suid-Afrikaners, beskikbaar gestel. Ons sal dan weet hoe droewig die situasie werklik is.
Die staat van inperking het ook ander negatiewe gevolge vir kinders. Navorsing toon dat na slegs ‘n maand van skoolsluitings in Hubei, China, byna ‘n kwart van kinders tussen Grade 2 en 6 simptome van depressie getoon het. Daarmee saam het navorsers ‘n toename in dwelmmisbruik, huishoudelike geweld en kindermishandeling gemeet. In Italië se grendelstaat, vind navorsers, was kinders meer geïrriteerd, het hulle slaapprobleme gehad en het die jongstes meer gereeld en meer aanhuidend gehuil.
In kort: die fisiese en geestelike welstand van Suid-Afrikaanse kinders word op ʼn gruwelike skaal ondermyn deurdat hulle nie in die skool is nie.
Vergelyk hierdie feite met die geskatte sterftesyfer van Covid-19. Byna al die epidemiologiese modelle toon dat Suid-Afrika se sterftesyfer nie bo 48 000 sal wees nie. As ons die huidige Wes-Kaapse ouderdomsprofiel gebruik, sal slegs 1300 van hierdie sterftes kinders onder 19 jaar wees. Hoewel elke sterfte tragies is, moet dit geweeg word teen die etlike miljoene kinders wat met skoolsluitings ‘n agterstand opbou, ‘n agterstand wat nooit weer ingehaal sal word nie. Dit gaan die gaping tussen ryk en arm net verder verbreed.
Ek vind dit daarom verbysterend dat iemand soos Mmusi Maimane sy beste doen om skole gesluit te hou. Vir die kinders in goeie skole, is dit natuurlik nie ‘n probleem nie; meeste van hulle woon in huishoudings met internettoegang en het onderwysers wat bereid is om aanlyn klas te gee. Maar dit is waar vir ‘n klein proporsie van Suid-Afrika se kinders: net 10% van huishoudings in Suid-Afrika het internettoegang by die huis. Miljoene kinders kry glad nie die onderrig wat ons Grondwet hulle beloof nie.
Net soos die klas van 1976, staar die klas van 2020 geweldige uitdagings in die gesig. En net soos die klas van 1976, gaan dit nie help ons sit op ons hande en wag vir die regering om die probleme op te los nie. 26 jaar na 1994 sit ons steeds met ‘n onbeholpe onderwyssektor. Ons moet self inspring.
Die eerste is om ons energie te sit agter die inisiatief om skole en kleuterskole so vinnig as moontlik te heropen. Hoe langer hulle toe bly, hoe groter raak die agterstande van ‘n generasie wat dit skaars kan bekostig.
Op voorskoolse vlak moet ons harder poog om vroeë-kind ontwikkelingsprogramme van stapel te stuur. Skole, kerke, ander gemeenskapsorganisasies en die privaatsektor sal moet handevat om veilige programme te ontwikkel, veral in townships en op die platteland. Op skoolvlak kan en moet tegnologie help. In plaas van 100 000 gratis TVs aan matrieks gee, soos die regering beplan, moet ons, soos Michael Jordaan voorstel, eerder skootrekenaars met sim-kaarte uitdeel. Sluit sommer gratis koderingstutoriale daarby in. Net soos top universiteite nou hul aanlynkursusse gratis beskikbaar maak, kan goeie skole dit ook doen. Die silwer randjie om die donker corona-wolk is dat die skuif aanlyn dalk méér arm kinders ‘n onderrigalternatief gee. As vakbonde nie van swak onderwysers ontslae kan raak nie, kan tegnologie dalk net die ding doen.
Die toekoms gaan nie makliker wees vir die kinders van vandag nie. Hulle gaan ‘n arbeidsmark betree met 50% werkloosheid. Daarom is dit nie net hul skooljare wat saak maak nie, maar ook wat hulle daarna swot. Angela Merkel, Duitsland se kanselier, het dit prontuit gesê met haar besoek aan Tukkies in Februarie vanjaar: te veel studente deesdae swot grade waarvoor daar nie werk is nie. Wat wel belangrik is, sê sy, is dat studente leer om te leer.
As ons iets uit die verlede leer is dat die mees suksesvolle samelewings dié was wat in hul jeug belê het. Jishnu Das, hoofekonoom in die Wêreldbank se Ontwikkelingsnavorsingsgroep, som dit goed op: ‘Die verskuilde paradoks van rampe is dat selfs al is dit bejaardes wat vandag meer ly, dit die jeug sal wees wat vir die res van hulle lewens sal betaal.’ As ons werklik Hector Pieterson se nalatenskap wil eer, moet ons die klas van 2020 bemagtig – deur ondernemerskap en tegnologie – met die vryhede wat goeie onderrig bring.
* ‘n Geredigeerde weergawe van hierdie skrywe het in Rapport van 21 Junie verskyn.
**Image source: Sydelle Willow Smith.