Die gevolge van gratis onderwys waaroor niemand praat nie
Die Heher-verslag het uiteindelik hierdie week die lig gesien. Die detail is nou al welbekend: die verslag verduidelik dat, alhoewel die doelwit van gratis hoër-onderwys ‘n verdienstelike ideaal is, dit eenvoudig nie in die huidige ekonomiese klimaat haalbaar is nie.
Dit beveel daarom eerder ‘n stelsel van banklenings aan, met die staat wat hierdie lenings onderskryf. Ryk en arm studente sal hierdie lenings uitneem, en dit hoef net terugbetaal te word indien die student ‘n sekere inkomste verdien na hul studies. Hierdie leningsstelsel sluit dié by privaat universiteite en dié by TVET en CET kolleges in.
Die punt is, studente wat tans, weens finansiële redes, nie toegang tot universiteitsopleiding het nie, gaan nou toegang kan kry. Dit is inderdaad ‘n wonderlike plan, in teorie.
Ongelukkig werk die praktyk nie altyd soos die teorie bepaal nie; die duiwel is in die detail. Daar is baie vrae wat onopgelos is: Gaan studente net vir hul eerste graad befonds word, of kan hulle tot in lengte van dae aanhou studeer? (Dit maak die grappie van die student wat sy teleurstellende punte aan sy ouers verduidelik met ‘universiteit is ‘n loopbaan, nie ‘n renbaan nie’, ‘n realiteit!) Is daar ‘n ouderdomsbeperking, of kan pensionarisse nou ook aanklop by hul naaste universiteit en lenings uitneem wat hulself nooit sal terugbetaal nie?
Soos met enige beleid is dit belangrik om deur die moontlike ongewensde uitkomste te dink, en een vraag wat nog onbeantwoord bly, is: Wie gaan nie moet swot nie, sodat studente wat voorheen uitgesluit is, nou toegang kan kry? Laat ek verduidelik.
Elke jaar kry ongeveer 150 000 matrieks vrystelling, wat beteken hulle kan universiteit toe gaan. Daar is op die meeste 55 000 plekke by die top sewe universiteite beskikbaar, waar kompetisie vir die beste studente straf is. Ook nie net daar is die vraag hoog nie. Vroeër vanjaar het die Universiteit van Zululand, byvoorbeeld, 80 000 aansoeke vir 5 000 plekke ontvang. Dis belangrik om ook te onthou dat baie studente nie dadelik gaan swot nie, maar ‘n jaar of drie iets anders doen om geld in te samel wat hulle sal toelaat om vir hul studies te betaal.
Wat gebeur as gratis hoër onderwys nou ingestel word? Skielik is die aanbod van studente baie meer, maar die voorraad beskikbare universiteitsbanke bly dieselfde. Omdat die aantal beskikbare plekke beperk is, beteken dit dat iemand wat vroeër dalk sou inkom, nou verdring gaan word deur die hoër vraag. En my vermoede is dat meeste van hierdie ‘verdringde studente’ waarskynlik armer studente gaan wees.
Dit is omdat studente in armer gemeenskappe gewoonlik na onderpresterende skole gaan. ‘n 60% in ‘n arm skool (waar jou klasmaats se punte almal onder 50% is) is ‘n baie beter punt as ‘n 65% in ‘n goeie skool (waar almal spog met A’s). ‘n Groter aanbod van studente met hoër punte en waarvan almal nie noodwendig voorheen universiteit toe sou gaan nie, kan beteken dat armer studente (maar met beter akademiese meriete, en wat tipes met ‘n beurs sou studeer) nou verdring word. Die gevolg: arm studente kan maklik aan die agterspeen suig vanweë gratis hoër onderwys.
‘n Nuwe navorsingsartikel oor die Chileense hoër onderwysstelsel wys presies dit: dat gratis hoër onderwys daar veral nadelig was vir arm studente. Daar is natuurlik maniere rondom hierdie probleem. Een daarvan is om, soos in Brasilië, ‘n kwotastelsel in te stel, waar ‘n proporsie van studente uit arm gemeenskappe moet kom. Maar dit skep weer addisionele ongewenste uitkomste.
Die kapasiteitsbeperkings by publieke universiteite en die onvermoë van die staat om hierdie kapasiteit vining te vergroot, beteken dit daar heel waarskynlik ‘n groot vraag geskep gaan word vir privaat universiteite om die ekstra studente wat wil studeer te ondervang. En omdat die staat die lenings onderskryf hoef hierdie universiteite nie bekommerd te wees oor die verhaling van slegte skuld nie. Dink so daaraan: die 75 000 studente wat by Zululand aansoek gedoen het maar nie kon inkom nie, kan nou gediens word deur ‘n private universiteit met die staat wat die risiko dra van onbetaalde klasgelde.
In die mediumtermyn kan dit inderdaad ‘n manier wees vir die privaatsektor om van die druk op die staat af te haal, maar in die korttermyn gaan die grootste wenners uit die hele #FeesMustFall-veldtog waarskynlik nie arm studente wees nie. Slegs wanneer kapasiteit toeneem sal méér studente toegang kry tot universiteit, insluitend dié wat voorheen uitgesluit is, waarskynlik by privaat universiteite.
Terloops, wie het net hierdie week afgekondig dat hulle hul eerste private universiteit in Durbanville gaan bou? As die Heher-verslag se aanbevelings aanvaar word, weet ek waar ek my ekstra spaargeld gaan belê.
*Photo by Ivan Aleksic on Unsplash.