Die evolusie van tradisie
My YouTube algoritme kies onlangs JAN JAN JAN se nuutste treffer ‘Ek bly ‘n boer’. En ek wonder by myself: hoeveel Suid-Afrikaners sou hulle kultureel as ‘boere’ beskou, ten spyte van die feit dat hulle nou in stede woon en werk. Wat maak iemand ‘n ‘boer’? Seersekerlik nie khakis en lang kouse nie? En, meer belangrik, watter invloed het hierdie kultuurassosiasie steeds op ons?
Antropoloë wat kultuurewolusie bestudeer help ons om die konsep van kultuur beter te verstaan. Hulle definieër dit as die kennis, tegnologie, waardes en oortuigings wat tussen generasies oorgedra word. Dis ‘n breë definisie. Byna als wat ons glo – in God of in die tandemuis – is die gevolg van wat ons ouers of gemeenskappe aan ons oordra. Ditto vir wat ons eet en drink (of nie eet en drink nie), wat ons doen vir vakansie, wat ons van ander mense dink, en wat ons glo reg en verkeerd is.
Wat is die doel van hierdie gewoontes is wat ons so van generasie na generasie oordra? Elke individu is tog uniek? Daar is twee hoofredes vir kultuurpraktyke. Die eerste is dat kultuur doeltreffend is. Dink aan ‘n eenvoudige landbousamelewing, die tipe samelewing waarin al ons voorgeslagte tot onlangs nog geleef het. Die wêreld van hierdie boere was basies jaar-op-jaar dieselfde. Dit was dus sinvol om kinders wys te maak met dieselfde jagtegnieke, veldkennis en sosiale rangordes as dié van hul ouers. Stories is om kampvure oorgedra, mites wat die volgende geslag moes help om die morele waardes en normes van die samelewing te help verstaan. Hierdie stories het oor tientalle generasies ontwikkel om die kern lesse saam te vat; dit was dus nie nodig vir elke generasie om van nuuts af al die inligting self in te win nie.
Dit bring ons by die tweede rede vir kultuur: dit is kumulatief. Kultuur versamel oor tyd. Dit bou op die verlede, staan op die skouers van reuse. Dit is waar ‘n ewolusionêre perspektief handig is. Die idee is dat net die mees geskikte kulturele praktyke oor tyd oorleef. Net soos diere oor etlike miljoene jare fisies aangepas het by hul omgewing – dink aan die dido wat byvoorbeld sy vermoë om te vlieg verloor het omdat daar geen natuurlike vyande op Madagaskar was nie – so het kultuur oor etlike generasies ook aangepas by die spesifieke omgewing waarin mense hulself bevind het.
Neem byvoorbeeld die walglike praktyk van vroulike geslagsverminking, ‘n praktyk wat nog in talle lande, insluitend Suid-Afrika, beoefen word. Hoekom sou so ‘n kulturele tradisie enigsins posvat? Dit help om te begin by ons voortplantingsinstink. Vroue kan rofweg een baba per jaar hê, terwyl mans talle by etlike vroue kan hê. ‘n Vrou is egter doodseker dat haar baba haar genetiese materiaal bevat. Mans is nie noodwendig seker dat hulle die pa van ‘n baba is nie. Om seker te maak mans belê hul tyd en energie in kinders wat hulle genetika het, het die tradisie in meeste samewelings ontwikkel dat die vrou wegtrek van haar ouers en by die familie van haar man aansluit – ‘n patriargale stelsel. Sy is dus in vreemde terrein en haar man kan sekerder wees dat hy die pa van die vrou se kinders is. Maar in sommige samewelings moes mans vir lang tye wegtrek van die huis af, veral as hulle veeboere was en die kuddes vir die wintermaande na ‘n ander gebied moes neem. Om te keer dat hul vroue by ander mans slaap, het die praktyk van geslagsverminking posgevat wat seks ‘n pynlike ervaring vir vroue maak. Só kon mans sekerder wees dat hul vroue nie met ander mans seks het nie.
Hierdie praktyke het oor geslagte ontwikkel in ‘n wêreld waar baie min dinge verander het. Vroue in sulke gemeenskappe het baie min regte gehad. Hulle is polities en ekonomies ontmagtig. Wat natuurlik die laaste rofweg vyfhonderd jaar gebeur het is dat die konteks baie verander het. Globalisasie het grense tussen kultuurgroepe afgebreek. Miljoene Europeërs het op skippies geklim en na die uithoeke van die wêreld gegaan op soek na ‘n beter lewe. Die nywerheidsomwenteling het gemaak dat mense op groot skaal na stede trek, weg van hul plattelandse leefwyses. Uitvindings soos elektrisiteit, die rekenaar en sosiale media het ons manier-van-doen radikaal verander. Die vraag is dus tot watter mate kulture by hierdie geweldige veranderinge van konteks en tegnologie aangepas het. Is die lesse van ons voorvaders steeds relevant vir die hier en nou? Is daar tradisies wat ons terughou?
Een gróót verandering is die toename in formele onderwys. Ontwikkelingsekonome vertel ons dat ‘n belegging in die onderrig van vroue beduidend groter opbrengste lewer as ‘n soortgelyke belegging in mans. Die probleem is: in baie patriargale samelewings, weens die kulture praktyke wat in ‘n spesifieke konteks gevorm is, is vroue se posisie van só ‘n aard dat hulle nie die onderwysgeleenthede kry wat goed vir die samelewing sal wees nie. Dit is ‘n voorbeeld waar kulturele praktyke wat in ‘n sekere konteks geskep is vandag in die pad staan van vooruitgang.
In ‘n onlangse artikel, History as Evolution, skryf Harvard professor Nathan Nunn dat ekonome ál meer bewus word van hoe ons kulturele doen- en denkwyses ons ekonomiese vooruitgang bepaal. Ons kultuurtradisies is gevorm oor honderde geslagte en moet nou, weens geweldige tegnologiese voortuigang wat die konteks die heeltyd verander, aanpas binne ‘n generasie of twee. Sommige kultuurpraktyke pas maklik aan – dit was praktyke wat koherent is met die huidige konteks (en was dalk selfs verantwoordelik vir die tegnologiese vooruitgang). Vir ander praktyke is dit moeiliker. Die vroeë omgewing waarbinne hierdie praktyke gevorm is, is nou teenstrydig met ekonomiese ontwikkeling. Wat ons dalk vandag beskou as nepotisme of korrupsie, mag in ‘n vroeëre tyd ‘n baie doeltreffende manier gewees het om jou familie te ondersteun en die oorleweing van jou groep te verseker. Sulke kultuurpraktyke het samelewings help oorleef in ‘n spesifieke konteks, maar nou hou dit hulle terug.
Terwyl geslagsmishandeling ‘n ekstreme voorbeeld van ‘n slegte kultuurpraktyk is, is ons almal maar, op die een of ander manier, die produk van ons verledes. Hier is een vir JAN JAN JAN se boere: Studies toon dat die nageslagte van veeboere meer geneig is om aggresief te wees en mense te wantrou as byvoorbeeld die nageslagte van saaiboere. Dit maak sin: veeboere moes (en moet steeds!) gedurig hul kudde beskerm teen wilde diere en veediewe en het daarom waardes en norme ontwikkel wat hulle vyandig en suspisieus maak. Wat egter ‘n rasionele praktyk tóé was, is ongelukkig nie ‘n bate vir hulle nageslagte wat vandag in stede woon nie: in ‘n diverse marksamelewing is vertroue, selfs in iemand wat nie soos jy lyk of praat nie, ‘n belangrike suksesfaktor.
Die goeie nuus is dat, anders as fisiese menslike ewolusie wat oor duisende jare plaasvind, kultuurpraktyke binne ‘n generasie kan verander. Daar is baie voorbeelde van waar tradisies transformeer om ‘n nuwe konteks te weerspieël. ‘n Meer geïntegreerde wêreld, groter en digter stede, en ‘n markstelsel wat ons meer afhanklik van mekaar maak dwing ons almal om ons gelowe en gewoontes wat in die verlede gebed is, te herevalueer. En dit gee ook die kulturele entrepreneurs onder ons die geleentheid om nuwe gelowe en gewoontes te kweek wat ons toelaat om ‘n meer vooruitstrewende samelewing te bou. Selfs ‘n veeboer kan soms nice wees as hy wil.
* ’n Geredigeerde weergawe van hierdie skrywe het in Rapport van 13 September verskyn.
**Photo by Keenan Constance on Unsplash.