Die donker resessiewolk se silwer randjie
Dis nou al ou nuus dat Suid-Afrika in ‘n tegniese resessie is. ‘n Tegniese resessie beteken eenvoudig dat ons minder produkte en dienste produseer as in die vorige twee kwartale: eers was daar ‘n daling in produksie van 2.6%, en toe weer van 0.7%. Daarmee saam tuimel die Rand teen meeste groot geldeenhede. Pas gepubliseerde misdaadsyfers is skokkend. En gesprekke rondom grondhervorming voel asof dit weinig vordering maak, skep onsekerheid vir beleggers en gee ammunisie vir populiste (insluitend die Amerikaanse president).
Dit skets alles ‘n baie donker wolk vir die toekoms.
Maar ons moet versigtig wees om ons nie aan apofenia skuldig te maak nie. Apofenia is die neiging om onverwante goed met mekaar te verbind. Almal van ons doen dit: as iets slegs gebeur, skryf ons dit toe aan iets wat net vooraf gebeur het, al het die twee goed niks met mekaar te doen nie. Sportsterre maak hul veral hieraan skuldig: byna almal het ‘n gunsteling item of roetine wat hul glo hul sal help om beter te speel, al doen dit natuurlik nie.
Ons doen dit ook met die nuus. Twee nuusbrokkies wat langs mekaar in die koerant verskyn – Misdaad is op! Die rand val! – klink asof dit iets met mekaar te doen moet hê. Dit is inderdaad teoreties moontlik dat hoër misdaad tot ‘n swakker rand aanleiding kan gee. (Dit is ook teoreties moontlik dat ‘n swakker rand, weens ‘n daling in produksie en dus ‘n styging in werkloosheid, tot hoër misdaadsvlakke kan lei.) Ons breine trek amper outomaties hierdie verbintenisse. Maar natuurlik kan albei gebeurtenisse deur ‘n verskeidenheid ander faktore veroorsaak word, goed wat niks met mekaar te doen het nie.
So, byvoorbeeld, kan die rand val vanweë ‘n sterk dollar. (Mense vergeet baie vinnig dat ‘n wisselkoers, anders as ander ekonomiese indikatore soos inflasie, altyd relatief tot ‘n ander geldeenheid is.) Die rand se val kan dus niks met interne faktore (soos misdaadstatistiek) te make hê nie. Dit wil ook voorkom asof dit presies is wat gebeur: die rand trek swaar weens globale onsekerheid oor ontwikkelende lande. Kyk maar net wat gebeur in Turkye en Argentinië. Laasgenoemde se sentrale bank het onlangs hul rentekoers van 45% tot 60% verhoog om die daling in hul wisselkoers teen te werk. Jy het inderdaad reg gelees: ‘n rentekoers van 60%! Ons het eintlik nog baie om voor dankbaar te wees!
Net so is die mees onlangse negatiewe ekonomiese groeikoers meestal die gevolg van die droogte in die Wes-Kaap en ‘n enorme haelstorm in Mpumalanga. Ons weet dit omdat landbouproduksie met bykans 29% gedaal het. Rapport se voorbladberig verlede week is ‘n goeie voorbeeld van apofenia: die daling in grondpryse van 32% is toegeskryf aan die grondhervormingsdebat, wat natuurlik nasionaal op almal se lippe is. Miskien is dit ‘n bydraende faktor. Maar ‘n meer eenvoudige hipotese is dat meeste van die daling in grondpryse weens droogte is. Waar is die droogte? In die Wes- en Oos-Kaap. Waar val grondpryse? 28% in die Oos-Kaap, 21% in die Wes-Kaap en slegs 1.2% in die Vrystaat. As dit werklik grondhervorming was, hoekom sal die Vrystaat nie ook deurloop nie?
Die punt is: ons moet versigtig wees om negatiewe nuus dadelik met mekaar te verbind. ‘n Slim belegger is iemand wat juis sulke oordeelfoute minimeer, en deur die uitermatige pessimisme kan sien.
Dit is inderdaad die geval dat daar ‘n verskeidenheid faktore is wat nou ophoop om ‘n donker wolk vir die toekoms te skets. En daar is beslis goed wat die regering kan doen om die situasie – misdaad, beleggersvertroue – te verbeter.
Maar nie als wat gebeur het dieselfde oorsprong nie. Nie als is die regering, of Cyril, of grondhervorming, of misdaad se skuld nie. Dit is goeie nuus, want dit beteken dat daardie goed nie eers hoef te verander voordat die ekonomie kan omswaai nie.
Resessies is nie lekker nie. Maar dis ook tye wanneer dié wat die regte kousale verwantskappe kan trek, en bereid is om risikos te neem, gróót kan wen. Grondpryse val met 20% in die Kaap? Miskien is dit nou die tyd om te koop; die damme loop immers vol.