Die dag toe ek Minister van Finansies was
Ekonomiese geskiedskrywers gaan nie ‘n goeie storie oor Jacob Zuma kan vertel nie. Ons vergeet vinnig, maar die eerste 15 jaar van die Nuwe Suid-Afrika was inderdaad ‘n tyd van ekonomiese vooruitgang en ontwikkeling. Armoede het skerp gedaal, veral as dit gemeet word aan die toegang wat arm Suid-Afrikaners tot basiese dienste gekry het. Werkloosheid, hoewel hardnekkig hoog, het afwaarts geneig. Ekonomiese groei het gesorg vir meer en groter aalmoese aan die uitgewekenes in ons samelewing, ‘n sosiale net van beskerming wat ‘n toonbeeld was vir ander ontwikkelende lande. En ten spyte van hierdie toename in staatsbesteding het die staatskas, vanweë ‘n goed-bestuurde Nasionale Tesourie en inkomstediens, selfs ‘n surplus getoon toe president Mbeki gegroet het.
Die era van Zumanomics het egter die wiele liederlik ontspoor. Die fokus, om dit ligtelik te stel, was op baantjies vir boeties, op ‘n tipe radikale ekonomiese transformasie wat alles behalwe die lewens van die gemiddelde Suid-Afrikaner getransformeer het. Die salarisrol van die openbare sektor het onrusbarend – en onvolhoubaar – gesneeubal. Ten spyte van ‘n goeie strategie soos die Nasionale Ontwikkelingsplan – Trevor Manuel en kie se laaste poging om die stuurwiel op die pad te hou – het staatskaping ander prioriteite verdring. Die staat en haar entiteite soos die SAUK, SAL en natuurlik Eskom, is geplunder van bronne en bestuursvernuf, totdat meeste ook maar bakhand aan die Minister van Finansies se deur moes gaan klop. Die resultaat was voorspelbaar: ekonomiese groei het opgedroog, armoede en werkloosheid het toegeneem, en mense, veral dié wie se aspirasies onvervuld gelaat is, het begin soek na alternatiewe radikale antwoorde.
En toe wen Cyril Ramaphosa in Desember, en die era van Zumanomics kom tot ‘n stotterende einde. Dink so daaraan: Wanneer laas het jy die woorde Wit Monopolie Kapitaal raakgelees? Maar Ramaphosa se taak is nie so maklik soos sy voorgangers nie. Hy het min tyd. Mense is ongeduldig en eis verandering. Hulle wil verbetering sien – ‘n groter inkopiemandjie aan die einde van die maand, ‘n universiteitsplek en werk vir hul kinders, ‘n gemeenskap waar hulle veilig en geborge voel.
Dit gaan vereis dat Ramaphosa ‘n fyn balans moet vind tussen onmiddelike aksieplanne en langtermynstrategie, tussen goed-geteikende besteding en besnoeiing om die skuldlas in te perk, tussen die mark se rol om entrepreneurs te beloon vir hul innovasie en die staat se rol om te verseker almal het ‘n gelyke kans.
Verbeel jou dat Ramaphosa my vandag bel, en vra dat ek volgende week die begrotingsrede lewer, ‘n begrotingsrede wat ‘n balans tussen al die verskillende belangegroepe probeer vind. Ek sal begin deur die SAUK en SAL volledig te privatiseer, en Eskom, Transnet en Denel gedeeltelik. Die inkomste hiervan sal gebruik word om skuld te delg. En omdat ons dan minder rente hoef te betaal, sal die persoonlike inkomstebelastingkoers gesny word.
Ek sal BTW verhoog tot 25%, maar die inkomste hiervan word gebruik om ‘n basiese toelaag aan alle Suid-Afrikaners per maand te betaal. (Pensioenarisse sal steeds ‘n groter toelaag kry, maar nie kinders nie.) Dit sal vereis dat alle Suid-Afrikaners ook vir belasting moet registreer, en deel word van die formele ekonomie.
Ek sal ‘n subsidie aankondig vir privaatinstellings wat studente tegniese vaardighede leer in plaas van gratis hoër onderwys. En ek sal universiteite herkapitaliseer om hul bestaande fasiliteite te verbeter en te vergroot. Ek sal ook subsidies instel vir beleggings in private kleuterskole, laer- en hoërskole aan, veral in plattelandse gebiede.
Werkloosheid is waarskynlik die grootste uitdaging van ons tyd. Ek sal minimumlone afskaf, en vervang met loonsubsidies waar werkers se basiese loon aangevul word. Hierdie uitgawe kan deels verhaal word van hoër maatskappybelastings. Ek sal arbeidswetgewing verslap sodat daar minder administratiewe vereistes op veral klein maatskappye geplaas word.
Nie alle veranderinge is natuurlik die verantwoordelik van my departement nie. My nuwe kollegas in die parlement moet help: Verhuur staatsgrond aan swart boere met ‘n klousule dat eienaarskap oorgedra sal word indien daar vyf jaar lank geboer word. Maak dit vir buitelanders, veral dié met grade van Suid-Afrikaanse universiteite, maklik om burgerskap te bekom. Die polisie moet belê in goeie speurders en forensiese tegnologie om misdadigers aan te keer en skuldig te bevind. Die departement van kommunikasie moet gratis internetdienste in arm woonbuurte uitrol; ‘n gebrek aan inligting is gereeld die rede hoekom mense nie op nuwe geleenthede reageer nie. Ons moet belê in openbare vervoer; tegnologie en die privaatsektor kan hier ook help. Dieselfde geld vir water- en sanitasie-infrastruktuur.
En dan word mens wakker met ‘n natgekwylde kussing en besef dat alles net ‘n droom was. Wie okal die volgende Minister van Finansies gaan sukkel om alle belangegroepe gelukkig te hou. Maar die realiteit is dat na nege jaar van agteruitgang hier nou ‘n geleentheid vir vernuwing en vooruitgang is. Gryp dit, Cyril! (En bel my.)
*An edited version of this was first published in Rapport. Photo by Javier Allegue Barros on Unsplash.