Berei jouself voor vir die wêreld van robotte
Tien jaar terug het ek op ‘n warm Januarie-aand in die Paarl voor ‘n groep Gimmies gestaan as geleentheidspreker by die skool se dux-funksie. My boodskap was eenvoudig: Die wêreld is besig om ’n merkwaardige tyd van verandering te beleef. Tegnologiese innovasies beteken dat studente poste gaan moet vul wat nog nie eens bestaan nie. En Suid-Afrika se ekonomie – wat teen vinniger as 5% groei – skep nuwe geleenthede in ’n vinnig-globaliserende wêreld. Dit is ‘n opwindende tydperk, het ek gesê, om jonk te wees.
Dit was 2006. Tien jaar later is dit duidelik dat my ongebreidelde optimisme beide akkuraat en misleidend was. Die afgelope dekade het inderdaad geweldige tegnologiese verandering teweeg gebring. Toe ek my toespraak gemaak het, het niemand in Suid-Afrika nog van Facebook geweet nie. Niemand sou die geweldige impak van sosiale media kon voorspel nie; Twitter en Instagram het meer soos bordspeletjies as biljoenêrsidees geklink. En die sharing economy – maatskappye soos AirBnB, Uber en BlaBlaCar (hou julle oë oop hiervoor, Suid-Afrika) – sou eers ‘n halfdekade later ontwikkel.
Maar beide ek en die klas van 2005 sou ook nie kon raai dat hulle in hulle derdejaar op universiteit die grootste globale ekonomiese insinking van enige generasie sedert die 1930s sou beleef nie. Hierdie klas moes gaan werk soek in ‘n tyd waar maatskappye skugter was om nuwe werkers aan te stel. Gelukkig is Suid-Afrika die ergste van die globale resessie gespaar (en die klas van 2005 kon dus nog redelik maklik werk vind), maar die verwoestende kragte van ongereguleerde finansiële markte het die optimisme van my 2006-toespraak na pypdrome laat lyk.
Vanjaar het ek weer die geleentheid gehad om op ‘n snikhete somersaand by Paarl Gim se dux-funksie te gesels. Hierdie keer is die nasionale sentiment natuurlik baie meer negatief; die ekonomie gaan na verwagting teen minder as 1% groei, die Rand het die afgelope paar maande erg getuimel teen ander groot geldeenhede, en die droogte beteken dat stapelvoedsel ten duurste ingevoer moet word, wat hongersnood kan verskerp. Die geleenthede vir die jeug lyk beslis minder rooskleurig as in 2006.
Maar ten spyte van die hou op my ken na my vorige toespraak, was my raad vanjaar nie veel anders as ‘n dekade gelede nie. Daar is geen rede om te verwag dat tegnologiese innovasies skielik gaan taan nie. Inteendeel, afgevaardigdes wat in Januarie by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos vergader het, het juis die implikasies van die komende ‘Vierdie Nywerheidsomwenteling’ bespreek. Hulle verwagting is dat die mensdom se manier van werk, woon en wandeling merkwaardig gaan verander oor die volgende dekade. Wie weet watter werksgeleenthede die Internet-van-Goed tesame met selfaangedrewe voertuie, driedimensionele drukkers, nanotegnologie, biotegnologie, materiaalwetenskap, energieberging, en kwantumberekening nie gaan skep nie. Die vraag wat elke matrikulant moet antwoord is: Wat gaan jy na skool doen om jou voor te berei vir hierdie nuwe wêreld?
Vir die skerpste matrikulante is die beste keuse, in my opinie, om ‘n kursus te gaan swot wat hulle toelaat om hierdie robotte (of algoritmes) van die toekoms te bou (ingenieurswese, fisika en chemie), of ‘n kursus wat hulle toelaat om met hierdie robotte te praat (wiskunde en rekenaarwetenskap), of ‘n kursus wat hulle toelaat om die data wat hierdie robotte genereer, te analiseer (statistiek, ekonomie en geografie). Pasop vir ‘n graad waar slim algoritmes jou toekomstige roetinetake kan vervang, veral daardie ‘back-office jobs’ waar min kreatiwiteit en interaksie met ander mense nodig is.
Interessant genoeg is die verwagting nie dat net die slimstes gaan werk vind in hierdie nuwe ekonomie nie. Soos hierdie tegnologieë meer mense welaf maak (deur inligting, energie, en verbruiksitems goedkoper te maak, of ons tyd te spaar), gaan ons meer dienste wil verbruik. Dit beteken ‘n toenemde vraag vir goed wat robotte of algoritmes nie kan voorsien nie: soos skoonheidsterapeute, sportafrigters, kokke, kunstenaars, loodgieters, sekuriteitswagte, verpleërs, skrywers, elektrisiëns, en maatskaplike werkers. En dan sal nuwe tegnologieë self ook ‘n menigtal werksgeleenthede skep waaroor ons nou maar net kan droom: hommeltuigoperateurs, alternatiewerealiteitsontwerpers en robotsielkundiges (sekerlik tog nie!).
Oor tien jaar gaan ons manier van vervoer, kommunikasie en ontspan waarskynlik baie anders lyk as vandag. Hierdie ekonomiese transformasie gaan baie werksgeleenthede vernietig, beroepe wat studente dalk nou as ‘n ‘veilige opsie’ beskou. Maar dit gaan ook baie nuwe werksgeleenthede skep. Kom ons hoop – vir hul eie, maar ook vir Suid-Afrika se onthalwe – dat die klas van 2015 hulself so voorberei vir die toekoms dat hul die beste van hierdie nuwe geleenthede kan maak.